Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Goddank vir Jesus!

Ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom,
en dit op ‘n weg wat nuut is en na die lewe lei (Hebreërs 10:19-20).

Van die bekende skrywer, Maria Elizabeth Rothman, beter bekend as MER, word die volgende vertel.

Hoe sy in haar oudag tog bekommerd was oor die uitkoms van haar lewe. Of – soos baie vromes daardie tyd gepraat het – alles wél was met haar siel en sy haar Skepper eendag met ‘n rein en skoon gewete sou kon ontmoet.

In dié verband, en om haar twyfel hieroor te besweer, het sy skynbaar gedurende dié jare die volgende gesê: “Goddank tog vir Jesus!”

Hiermee het die skrywer, wat weliswaar ‘n onkonvensionele, maar tog ernstige gelowige was, ons op kinderlike en eenvoudige manier herinner aan Hom wat die hart of kern uitmaak van ons geloof.

Die gevaar is dat ons hierdie kern kan mis. Dat ons, soos baie vandag, ons kan blindstaar op die kerk en al sy gebreke. En dan moed verloor. Of nog erger: sinies en negatief raak.

Nee, die groot vraag, indien jy enigsins ernstig is oor die Christelike geloof en eerlik in jou soeke na sin en betekenis, is nie wat die kerk my alles kan bied nie. Dit is eerder, in die woorde van ‘n bekende lied: “Wat gaan jy maak met Jesus?”

Die lydenstyd is ‘n tyd waarin ons geroep word om opnuut, net soos die Hebreërskrywer, op Jesus as die lydende Messias te fokus. Want dáár sien ons wat ‘n groot liefde ons Skepper vir ons het – ‘n liefde wat ons voortdurend dra en bewaar, veral ook wanneer die skaduwee van die ouderdom en dood oor ons begin val.

Sodat ons met dankbaarheid soos MER kan sê: “Goddank vir Jesus.”

Here, dankie vandag vir Jesus wat ons deur sy woorde en dade die toegang tot egte lewe bied. Amen

Carel Anthonissen

Boodskap vir Vandag word finansieel moontlik gemaak deur die goedgunstige donateurs van Bybel-Media wat daarin glo dat die Woord van die Here deur verskillende mediums versprei moet word. Dit bereik daagliks reeds meer as 8 600 lesers.

As jy dalk Bybel-Media of die Sentrum vir Christelike Spiritualiteit (wat die boodskappe se inhoud verskaf) wil ondersteun, besoek die Bybel-Media webblad  of die Sentrum vir Christelike Spiritualiteit webblad.

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.