Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is,
moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees (1 Petrus 1:15).
In die Bybel word ons meermale gemaan om soos God heilig te wees (Lev 19:2; 1 Pet 1:15).
Dit is ons roeping. Daartoe is ons wat in Christus glo, bestem – om as sy kerk sonder vlek of rimpel, heilig en onberispelik met Hom te leef (Efes 5:27).
Maar wat beteken dit om heilig te wees?
In haar mooi boekie “Ontmoeting met Heiliges” wat pas verskyn het, werp die vroulike teoloog, Lisel Joubert, interessante lig op dié vraag.
Deur die verhale van sekere gelowiges te vertel, wys sy allereers daarop hoe die betekenis van die woord “heilige” deur die eeue ’n verskuiwing ondergaan en verander het. Sodat dit vandag vir mense van verskillende geloofstradisies ook verskillende konnotasies het.
In die Katolieke en Ortodokse kringe is dit byvoorbeeld steeds praktyk om sekere gelowiges tot sogenaamde heiliges te verklaar. Dit is gewoonlik mense met opvallende heroïese gawes en kenmerke wat ná hulle dood, só word geglo, ook vir ander by God kan intree.
As gereformeerde teoloog is Joubert lugtig vir so ‘n siening. In ooreenstemming met die Nuwe Testament, herinner sy ons daaraan dat heiligheid die nuwe status is wat élke gelowige in Christus ontvang het. Dit sluit egter nie uit dat daar deur die eeue gelowiges was wat Christus só uitnemend gedien en lief gehad het dat hulle lewe vandag steeds ‘n blywende inspirasie vir ander is nie.
Haar eie definisie van wat ‘n heilige is, sluit hierby aan as sy skryf: “Ek wil heiliges verstaan as persone wat ander se verbeelding aangegryp (óf aanstoot gegee het) omdat dit wat hulle van die evangelie verstaan het, hulle anders laat leef het.”
Behalwe dat die boek boeiende leesstof bied oor meer as 50 sulke figure se lewe, laat dit mens ook diep nadink oor die vraag: “Waarin is mý lewe anders? Waarin bestaan my stukkie heiligheid?”
Want om heilig te wees, beteken nie noodwendig – soos Joubert tereg ook wys – in ‘n preutse of wêreldvreemde styl van lewe waarin jy jouself beter of hoër as ander ag nie.
Dit beteken wel ‘n lewe van toewyding en gebed, van integriteit en nederigheid – een wat meesal haaks staan op die oppervlakkige smake, gewoontes en rituele van ons moderne verbruikers- en magskultuur.
En wat daarom opval en inspireer.
Here, help my vandag om heilig te wees soos U. Amen