Ja, my oortredinge ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus (Psalm 51:5).
Om heilig te lewe soos wat die Bybel ons vermaan, beteken – soos ons gister gehoor het – dat ons as gelowiges dit sal waag om ánders te leef.
Één manier om anders te leef en só nader te kom aan die Bybelse ideaal van heiligheid, is om altyd bereid en grootmoedig te wees om jou foute en oortredings te erken.
Openlik te sê en te bely dat jy drooggemaak het.
Die geskiedenis wys dat mense wat in dié opsig eerlik is, selfs al veroorsaak dit nóú groot verleentheid en pyn, op die lange duur net kan wen en groter respek afdwing.
Hoe aangrypend sien ons dit nie in Dawid, die koning van Israel, se lewe nie.
Toe hy ná die egbreuk met Batseba deur Natan die profeet gekonfronteer is (2 Sam 12:1-12), gooi hy nie verontskuldigend en met allerlei verskonings sy hande in die lug nie. Inteendeel, Dawid erken sy skuld (2 Sam 12:13), verootmoedig hom voor God en skryf agterna ’n psalm – Psalm 51 – wat oor eeue vir baie individue én volke wat gewanhoop het aan hulle toekoms en núút moes begin, tot groot inspirasie sou dien.
Ongelukkig is daar min van Dawid se soort in die rondte. Trouens, dit bly een van die ontstellende tendense van ons samelewing hoe mense, veral leiers, weier om verantwoordelikheid vir hulle eie foute of wandade te neem.
Ja, hoe hulle, in plaas daarvan om hulle foute en swakhede te erken en te bely, dit steeds bly verdedig of verdoesel – of erger nog, die blaam daarvoor op ‘n ander oorskuif.
Sulke mense verstaan nog min van die evangelie van Jesus wat lewe, hoop én heiligheid beloof aan hulle wat bereid is om aan hulle eie mag, vrese, trots en oneerlikheid te sterf.
Vir dié soort heiligheid behoort ons elke dag te bid – nie alleen vir ander nie, maar veral ook vir onsself.
O Here, hoe traag is ons om ons foute te erken. Leer ons vandag weer die wins daarvan om eerlik met ons eie mislukkings en oortredings om te gaan. Amen