God het ons dan nou vrygespreek omdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus (Romeine 5:1).
Dit is gepas dat ons in die aanloop tot Goeie Vrydag sal kyk na wat Paulus in Romeine 5 die vrug van God se vryspraak noem.
Want dít is presies wat deur Jesus se kruisdood gebeur het: God het die skuldige mensdom vrygespreek, die las van sonde en skuld wat so swaar op ons rus, eens en vir altyd verwyder.
En dit het gevolge, goeie gevolge.
Die eerste is dat ons nou mag weet dat daar vrede tussen ons en God is, dat God ons nie langer kwalik neem of verwyt vir wie ons is of vir wat ons alles in ons lewe aangevang het nie.
Ook dat ons daarom God nie langer hoef te vrees as ‘n straffende of veroordelende Vader nie. Want uit liefde het God die groot kloof tussen God en mens oorbrug. Het God die vervreemding opgehef, die skuld begrawe, die vrees besweer en versoening gebring.
Wat ‘n geweldige boodskap, oneindige troos en versekering is dit nie!
Gereeld kom ek mense teë wat hiermee sukkel. Wat wanneer hulle aan God dink, of bloot die woord of naam “God” hoor, ineenkrimp. Omdat God se naam steeds skuld, veroordeling, selfverwyt, vrees en ook skaamte oproep.
As jy een van dié is, lees gerus weer Paulus se woorde, hoor weer duidelik wat hy skryf, en wéét: As jy dít kan glo, dáárop kan vertrou, geld Paulus se uitspraak van jou – nou, onmiddellik, finaal.
“God het ons dan nou vry gespreek … Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur onse Here Jesus Christus.”
O Here, wat ‘n verligting dat u liefde is en dat U in Christus vrede skep tussen U en ons. Daarvoor kniel ons vandag alleen weer in dankbaarheid. Amen