Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot
hierdie genade waarin ons nou vasstaan (Romeine 5:2).
Volgens Paulus in Romeine 5 is daar ‘n tweede vrug wat groei uit die feit dat God ons deur Christus se dood vrygespreek en vrygemaak het van skuld en sonde.
Dit is dat ons, in sy woorde, nou deur die geloof vrye toegang het tot die genade waarin ons vasstaan (Rom 5:2).
Hierdie genade, só hoor ons ‘n entjie verderaan, is dat God sy liefde aan ons bewys het toe ons nog sondaars was (Rom 5:8) – toe ons nog, soos die verlore seun, doelloos rondgedwaal en rondgeval het in ‘n ver land – die ver land wat ‘n beeld is vir al die plekke waar en tye toe ons ontheemd, vervreemd, verlore en skuldig gevoel het.
En wie van ons ken nie hierdie ver lande nie?
Presies tóé, so hoor ons, het God ons in Christus tegemoet gehardloop, omarm en tuis gebring in die luukse van sy oorvloedige liefde, sorg en beskerming (Luk 15:20).
Hierdie sorgende liefde, so skryf Eugene Peterson, is die wye oop ruimtes van God se genade waarin ons, danksy Christus se kruisdood, nóú mag leef en verkeer. En dít met die onwrikbare wete en blye hoop dat ons daagliks deur hierdie liefde vasgehou en gedra word.
Ja, dat niemand minder nie as die Gees van God hierdie liefde elke dag, elke oomblik, op ‘n verborge maar wonderlike manier in ons lewe indra en ons, wanneer ons stil genoeg raak, ook daarvan bewus maak.
Deur die liefde wat God in Christus aan ons bewys het en wat God deur sy Gees in ons harte (Rom 5:5) uitgestort het, rig God ons op, gee God aan ons ‘n staanplek in die lewe, ‘n eie waardigheid en trots sodat ons voortaan die wêreld sonder skaamte in die oë kan kyk.
Kan daar groter dinge oor ons lewe gesê word as dit?
Die vraag bly natuurlik of ons dit weet – selfs belangriker nog, of ons dit glo?
O Here, dankie dat ek vandag weer mag vasstaan in die wye ruimtes van u genade en liefde, en dit omdat U self in my werk. Amen