Toe het hulle sy woorde onthou en van die graf af teruggegaan en
al hierdie dinge vir die elf en al die ander vertel (Lukas 24:8).
Lukas 24: is die eerste van drie verhale oor die opstanding van Jesus.
In ‘n sin stel die verhaal oor die vroue by Jesus se graf die breë lyne of kontoere waarbinne Lukas oor die opstanding van Jesus skryf.
Die eerste wat ons in die verhaal sien is dat, alhoewel Lukas die opstanding van Jesus as ‘n historiese gebeure of feit aanbied, dit ‘n feit is wat nie bewys of wetenskaplik gestaaf kan word nie. Niemand het die opstanding van Jesus sien gebeur nie. Niemand was teenwoordig toe Jesus uit die graf verdwyn het nie.
Die sogenaamde opstanding van Jesus bly ‘n groot misterie, “‘n gebeure wat in newels gehul is” (Noordmans). Al wat die vroue, en later ook Petrus, in die vroeë oggend vind, is ‘n leë graf en ‘n paar los doeke – ‘n gegewe wat vatbaar is vir meer as een interpretasie of verklaring.
Van die Joodse leiers, so lees ons in Matteus 28:12-14, het later die gebeure as ‘n teken van diefstal versin.
En tog bevat die leë graf vir Lukas ‘n ander grootse boodskap, naamlik dat Jesus lewe, dat Hy opgewek is uit die dood, opgestaan het uit die graf. Ons hoor dit in die woorde van die twee manne wat by die graf sit (Luk 24:5-7). Ons hoor dit in die getuienis van die vroue (Luk 24:8-10).
Dit is dan ook die belangrike punt wat Lukas deur sy vertelling van Jesus se opstanding wil maak: Hier is geen klinkklare bewyse nie, geen direkte waarneming nie, maar wel ‘n vreemde en onrusbarende boodskap, ‘n ongelooflike, maar klinkklare woord en getuienis.
In ‘n studie oor dié gedeelte stel die Duitser, Arnold Falkenroth, dit só: ”Paasfees begin met die swak en geringgeskatte stemme van ‘n paar vroue. Hulle leer ons: ‘Dit gaan om geloof en nie om aanskouing nie. En dié geloof leef uit die Woord.’”
Weliswaar is dit ‘n woord of getuienis wat verwerp of skepties bejeën (Luk 24:11), ja, selfs verdraai kan word (Matt 28:12-14).
Maar wie daarop vertrou, wie onthou wat die profete en later Jesus self oor die uitkoms van sy lewe voorspel het én dit glo, vir hulle word dit ‘n boodskap van hoop en bevryding, ‘n woord wat nuwe lewe en vooruitsigte kan skep.
Een wat ons harte warmer kan laat klop (Luk 24:32), ook nuwe krag en energie in ons lewe kan ontsluit (Luk 24:48-49).
Hoe duidelik sien ons dit nie in Lukas se drie verhale gebeur nie (Luk 24:1-35)!
Here, ons is moderne mense. Soos met die dissipels, wonder ons ook of die verhaal oor u opstanding regtig waar kan wees. Help ons vandag weer om die vroue se getuienis te glo. Amen