Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is nie hier nie.
Hy is uit die dood opgewek (Lukas 24:5-6).
Dit val op dat Lukas in sy weergawe van die verhaal van die vroue by die leë graf (Luk 24:1-12), op twee maniere na Jesus se merkwaardige terugkeer uit die dood verwys.
Die een is dat Jesus ópgestaan het uit die dood (Luk 24:7). Die ander is dat Jesus deur God opgewék is uit die dood – byna soos ‘n kind wat deur ‘n ouer wakker gemaak is (Luk 24:6).
Dit is ‘n verdere belangrike aspek van die boodskap van die leë graf. Dit verkondig iets oor God – die God van Jesus wat, in die woorde van Johannes 20:17, ná die opstanding ook nou ons Vader en God geword het.
Dit vertel allereers van God se trou waardeur hy op ‘n merkwaardige en verrassende wyse Jesus aan die kloue van die dood en die verderf ontruk het. Want Jesus sterf werklik. In terme van menslike maatstawwe en oordele, is daar geen terugkeer of redding moontlik nie.
En dan, op Paasmôre, breek die graf oop, en Jesus verskyn uit die dood.
Tereg praat die Bybel van die opstanding as ‘n totaal nuwe daad van God, as die deurbraak van God se heerskappy, die triomf of segepraal van sy liefde wat die Bose oorwin. Die mens ervaar in en deur die opgestane Christus nou nuwe lewe en vars hoop.
Luther beskryf hierdie nuwe magsdaad van God in een van sy preke só:
“Omdat God dit nie langer kon uitstaan nie, het die tyd aangebreek dat Hy sy mag sou bewys. Hy het aan die Bose gesê: ‘Duiwel, jy het alles wat boos is aan my gewys en oor my uitgestort, en nogtans lewe Ek.’ Dít dan is die wonder van God wat Hy deur die opstanding van Christus aan ons bewys het.”
Deur Christus uit die dood op te wek, bewys God nie alleen sy troue liefde aan elkeen van ons nie, maar wys God ook dat niks vir Hom onmoontlik is nie.
Wie dit begin raaksien én glo, sal vind hulle word ál meer met verwondering vervul (Luk 24:12).
Here, dankie vir u troue liefde waarmee U ons vandag nog omring, net soos vir Jesus in die uur van sy nood. Amen