Daarna het Jesus weer aan sy dissipels verskyn,
by die see van Tiberias (Johannes 21:1).
Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid (Kolossense 1:27).
Terwyl ons vir die geloof in Jesus se opstanding aangewys is op die sogenaamde Skrifte, die mondelinge en skriftelike getuienisse van die eerste apostels en dissipels, is daar iets belangriks wat bykom.
Dit is die ontmoeting met Jesus self.
Hieroor rapporteer die opstandingsverhale ook heel kwistig. Hoe Jesus ná sy opstanding aan sekere mense verskyn het – hulle gaan opsoek en ingelei het in, ja, selfs teruggelei het na die geloof. Dit is trouens waarheen die verhale en getuienisse oor Jesus se opstanding ons uiteindelik wil neem; dít is wat die geloof uiteindelik opwek en aan die gang hou.
Naamlik dat ons soos die Emmausgangers en vele ander soos Thomas, Petrus, Jakobus en Paulus die lewende Here self sal ontmoet, in blywende gemeenskap met Hom sal leer leef, ja, letterlik in Hom sal bly soos wat Hy self in Johannes 15 versoek het.
Dit is nie om dowe neute nie dat Jesus met sy hemelvaart beloof het dat Hy by ons sal wees tot aan die einde van die dae nie (Matt 28:20). Sy fisiese vertrek, só beloof Hy in Johannes 16:7, maak dit juis moontlik dat Hy ná sy opstanding op ‘n meer intieme manier by ons kan wees, naamlik deur sy woord, en veral deur sy Gees wat in ons woon en werk.
Ook in die sakramente. En natuurlik in die gestalte en nood van die vreemdeling en die arme wat ons daagliks tegemoet tree.
Sodat ons op hierdie aarde nie soos weeskinders hoef te voel nie, maar Hom met groter blydskap kan volg en dien.
Die lewe saam met die opgestane Heer, ja, ín Hom, bly ‘n groot, onpeilbare, maar bevrydende misterie.
Waarskynlik is daar geen groter misterie as dit nie – dat ons lewe, soos Paulus dit stel, saam met die lewende Christus “verborge is in God” (Kol 3:3)!
Dankie, Here, dat U in ons leef en dat ons lewe in U veilig is by God. Amen