Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek en
leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al meer vernuwe word na
die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God (Kolossense 3:9-10).
Die nuwe lewe wat deurbeek met Christus se opstanding en waaraan ons deur die geloof deel kry, is nie iets wat natuurlikerwys by ons as mense wortelskiet of opwel nie.
Dit is allermins ’n verlengstuk van ons eie deugde of talente. Daarvoor is dit gans té nuut en té anders.
Wie daarmee in die geloof waag, waag letterlik om, soos Paulus dit beskryf, “met die ou sondige mens en sy gewoontes te breek en die lewe van ‘n nuwe mens te leef – ‘n lewe wat almeer vernuwe word na die beeld van die Skepper en tot die volle kennis van God” (Kol 3:9-10) .
Anders gestel: Om deel te kry aan die nuwe lewe in Christus vra ‘n soort dood of sterwe – een waarin die ego van die mens wat hoofsaaklik teer op ambisie, kompetisie, prestasie, roem, selfsug en eiebelang, kleiner word en plek maak vir ‘n nederiger, broser en medemensliker self – een wat, soos Christus, daagliks met begrip en deernis uitreik na alles en almal rondom hulle.
Die opstanding van Jesus – so beskryf die teoloog Christina Landman die praktiese waarde daarvan – voorsien aan ons ‘n grootse simbool van opstaan. Dit gee aan ons die energie om daagliks ons kruis te gaan dra en óp te staan – óp te staan uit ons ongeduld, woede, sinisme en klaagsug en met groter blymoedigheid en dankbaarheid te gaan leef.
In kort: Dit is om die dood – die dood van die ou mens – om te skakel in ‘n dans van vreugde, vrede en offerbereidheid..
Want dít is wat die lewe van die nuwe mens behels.
O, Here, help my vandag om so te sterf aan my eie ambisies dat U met u resep vir lewe ‘n groter vastrapplek in my lewe kan kry. Amen