Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

‘n Heildronk op die lewe

En wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is,
en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan,
vervul word: “Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal” (1 Korinthiërs 15:54).

‘n Paar weke gelede besoek ek ‘n ou familievriendin.

Sy is reeds 87 jaar oud, maar is nog helder van gees en denke. Boonop besit sy ‘n wonderlike sin vir humor.

Twee maande vroeër is haar ouer broer in die hoë ouderdom van 92 oorlede. Vir haar was dit ‘n gevoelige slag. Soos sy dit stel: “Van al die kinders was ons twee die naaste aanmekaar. As ouer broer het hy altyd na my omgesien. Ons het dieselfde sin vir avontuur, grappies en vreugde in die lewe gedeel.”

Met die aanstap van die jare het daar egter ‘n probleem ontstaan – een waaroor hulle kort voor sy dood openlik oor die telefoon gesels het.

Die probleem was dat, gegee albei se hoë ouderdom en swak gesondheid, ook die feit dat hulle ver van mekaar gebly het – hy in Gauteng en sy op Stellenbosch – dit duidelik was dat hulle nie eendag mekaar se begrafnisse sou kon bywoon nie.

Vir my vriendin was dit nie ’n aangename vooruitsig nie. Sy het ‘n diep behoefte én verpligting ervaar om bý te wees as haar broer begrawe word. Terselfdertyd het sy besef dat dit nie regtig haalbaar was nie.

Die broer met sy kenmerkende humor het egter ‘n oplossing gehad: “Kyk,” het hy voorgestel, “gegee dat ons nie mekaar se begrafnisse sal kan bywoon nie, kom ons doen dit só. As die einde kom, woon jy jóú begrafnis by en ek mýne. En wie ook al agterbly, doen moeite om die ander op daardie dag te onthou. Dit sal die ding doen.”

En so het dit toe gebeur dat op die dag van haar broer se begrafnis die vrou op die beplande uur haar Bybel uitgehaal, ‘n kers aangesteek en in stilte verkeer het – dit terwyl sy in dié uur teruggedink het aan al die wonderlike tye wat hulle saam beleef en geniet het.

Toe die uur van sy begrafnis verby was, het sy selfs nog verder gegaan. Sy het vir haarself ‘n glas wit wyn geskink en, terwyl sy dit omhoog gehou het, haar broer gehuldig. Terselfdertyd het sy die Heer gedank vir die goeie lewe saam en vir die hoop om mekaar eendag weer te sien.

Ek kon nie help om gedurende die Paastyd aan hierdie mooi storie te dink nie. Op ‘n treffende manier vertolk dit die gees van hoop en nuwe lewe waaroor Paulus dit in 1 Korinthiërs 15 het. Dit wys ons veral waartoe die geloof in Christus se oorwinning oor die dood mense kan beweeg.

O, Here, dankie vir die gawe van die lewe en dat U die dood oorwin het. Amen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.