Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? (Psalm 42:12).
Die verhaal van Thomas, die twyfelaar, in Johannes 20:24-31 bevat ‘n paar belangrike en troosvolle lesse.
Die eerste is dat die Bybel ruimte maak vir twyfelaars, en nie eerlike soekers of mense wat sukkel om te glo summier afskiet nie.
Thomas is maar een van vele in die Bybel wat ‘n probleem met geloof gehad het.
Luister net na Sara, die vrou van die geloofsvader Abraham – hoe skepties en ongelowig sy lag wanneer God haar ‘n kind in haar oudag beloof (Gen 18:12).
Hoor die Prediker wat alles in die lewe beproef het, en dan sinies opmerk: “Alles kom tot niks, dit is ‘n gejaag na wind” (Pred 2:17). Of die psalmdigter wat onophoudelik kerm: “Waarom is ek so in vertwyfeling?” (Ps 42:12).
Die voorbeelde herinner ons daaraan dat twyfel en ongeloof baie oorsake het.
Die psalmdigter byvoorbeeld begin twyfel wanneer sy wêreld op ‘n dag in duie stort en God skielik onverskillig, selfs onbetrokke en afwesig skyn te wees.
Ander weer word met ‘n kritiese en skeptiese gees, ja, selfs met ‘n donker gemoed gebore. Of hulle kry dit met hulle opvoeding in.
Thomas lyk of hy in laasgenoemde kategorie te val. Wanneer Lasarus sterf, is sy spontane reaksie dié van vertwyfeling en fatalisme (Joh 11:16). Wanneer Jesus praat van weggaan, is hý die een met allerlei vrae (Joh 14:5). En nou, wanneer die dissipels hom meedeel dat hulle Jesus gesien het, kom sy twyfel en skeptisisme sterker as ooit na vore.
Luister net: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie” (Joh 20:25).
Thomas se reaksie is natuurlik geensins onbekend nie. Hoeveel van ons soek nie ook na méér sekerheid en méér klinkklare “bewyse” nie?
Hoe troosvol is dit nie om dan te weet nie: Thomas en al die ander se vraagtekens staan in die Bybel. Wat beteken: Twyfel beteken nie noodwendig die einde van ons geloof nie.
Dit kan selfs die voorspel tot ‘n nuwe begin wees.
O, Here, ons wil so graag glo, kom ons ongeloof vandag weer te hulp! Amen