En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!” (Johannes 20:28).
Die verhaal van Tomas se twyfel herinner ons ook daaraan dat God nooit ver is van hulle wat twyfel of wat met geloof sukkel nie.
Ons sien dit aangrypend mooi in die verhaal van Tomas.
Dit is byna asof Jesus, lank voordat Tomas sy besware en kritiek so heftig aangekondig het, alles daarvan geweet het. Daarom, wanneer Hy in Johannes 20:19-25 die tweede keer aan die dissipels verskyn, wend Jesus hom eerste na Tomas.
In hierdie oomblik skuif die ander dissipels na die agtergrond, terwyl Jesus en Tomas die verhoog as ’t ware vul.
In sy kommentaar oor dié gedeelte, sien die Switserse teoloog, Walter Lüthi, in hierdie optrede van Jesus nie alleen ‘n teken van vergifnis nie, maar van ‘n keuse vol spesiale genade. Asof Jesus in die omstandighede Tomas spesiaal uitgekies het, hom spesiaal met Tomas bemoei het om só aan hom ‘n spesiale guns te bewys.
Vir Lüthi beteken hierdie uitverkiesende liefde van Jesus allermins die uitsluiting van ander. Of dat Jesus daardeur ‘n spesiale voorkeur vir sommige bo ander toon.
Nee, sy keuse vir Tomas staan eerder in die teken van God se groot en onbegryplike liefde vir sondaarmense, vir mense wat twyfel en sukkel om te glo. Na hulle reik God inderdaad spesiaal uit, presies soos daardie herder wat sy kudde vir een oomblik agtergelaat het om die een verlore skaap te gaan vind.
Wie hierdie liefde van God, God se genadekeuse vir sondaars, eerstehands ervaar het, kan nie anders nie – hulle kan alleen in verwondering kniel en dankbaar uitroep: “My Here en my God!”
Wat ‘n mens laat wonder: Wanneer laas het die besef van God se liefde en genade ons dít laat uitroep?
Here, raak ons vandag weer só aan met u groot genade en liefde dat ons nie sal skaam wees nie om soos Tomas uit te roep: “My Here en my God!”