Om te glo is om seker te wees van die dinge wat ons hoop,
om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie (Hebreërs 11:1).
Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo (Johannes 20:29).
In een van sy vele meditasies vertel die Hollandse teoloog, Okke Jager, van ‘n wrede speletjie wat ‘n pa eendag met sy jong kind gespeel het.
Hy het naamlik die kind aangemoedig om van ‘n tafel af in sy arms te spring. Sy belofte aan die kind was dat hy hom sou vang wanneer hy spring. Maar toe die kind sy pa se woorde ernstig neem en spring, het die pa eensklaps padgegee sodat die kind met ‘n slag op die grond beland het.
Sy verduideliking was: “So moet jy leer dat daar nie ’n God is wat sorg en ons vang of dra wanneer ons val nie. In die lewe moet ons self sien kom klaar.”
‘n Mens kan beswaarlik aan ‘n meer siniese manier dink om na die lewe te kyk. Tog is daar baie mense wat vandag met hierdie soort ongeloof en twyfel leef en dit ook, soos dié pa, propageer.
Gelukkig is daar ook ‘n ander perspektief.
Soos die Bybelse verhale wat volhou dat God bestaan, selfs al kan ons God nie sien of ervaar soos met ander dinge of mense nie. Hierdie God, so getuig die Bybel verder, is boonop ‘n vriendelike God – Een wat soos ‘n liefdevolle ouer elke dag daar is om ons te versorg en te dra.
Sodat ons maar soos daardie kind kan spring, ons lewe daagliks in God se hande kan plaas.
Geloof, so herinner die opgestane Jesus ons in Johannes 20:29, is om hardnekkig en volhardend op hierdie troue liefde van God te vertrou, om – in die gees van die Hebreër-skrywer – seker te wees van die dinge wat ons hoop, maar nie aldag sien nie.
Jesus kom deur die dood. Hý weet – wéét dat God ons nooit sal los of laat val nie. Selfs wanneer alles donker en uitsigloos lyk.
Here, wat ‘n troos om te weet dat U daar is. En dat U my nooit sal los nie. Amen