Abram het toe weggetrek, gehoorsaam aan die woord van die Here (Genesis 12:4).
Onlangs by ‘n kursus oor poësie en geloof lees ‘n vrou ‘n eie gedig voor.
Die gedig druk haar gewaarwordinge uit toe ‘n elektroniese deur eendag onverwags voor haar toeskuif. Weliswaar was dit nie ʼn abnormale of ongewone verskynsel nie, want elektroniese deure skuif inderdaad na ‘n ruk weer outomaties toe.
Maar vir ‘n kort oomblik het dit haar verras, laat terugskrik – en selfs laat twyfel of die deur ook weer vir haar sou oopgaan.
Totdat sy, soos sy dit in haar gedig uitdruk, die grond onder haar voete gevoel en dit gewaag het om ‘n tree vorentoe te gee. En siedaar: Die deur het, soos gewoonlik gebeur wanneer jy naderkom, geruisloos oopgeskuif.
In dié gedig gebruik die vrou op ‘n treffende manier die beeld van hierdie moderne deur om haar ervaring van hoe die lewe soms werk en wat geloof is, uit te druk.
Want dit is inderdaad so: Die lewe bring ons dikwels voor ’n toe deur te staan, of daar is deure wat voor ons toeskuif, wat ons pad en uitsig versper, ons in ons spore stuit. Ons ook laat wonder of daar enigsins ‘n uitweg of deurgang bestaan.
Totdat ons dit waag om te handel, aan die gang te kom, weer vorentoe te beweeg en daardie eerste tree te gee.
Want sien, náás die vertroue dat deure, spreekwoordelik gestel, kan oopgaan en dat ons in dié opsig op die stewige grond van God se beloftes staan, is hierdie eenvoudige handeling of daad ook ‘n belangrike deel van ons geloof.
Ons moet dit alleen daarmee waag – soos Abraham destyds.
O Here, gee ons vandag weer die moed van daardie geloof wat dit waag om ’n tree vorentoe te gee. Amen