Totdat ek kom, moet jy jou daarop toelê om uit die Skrif voor te lees,
te preek en onderrig te gee (1 Timoteus 4:13).
Om die beloftes van God, soos wat dit in die boeke en verhale van die Bybel neerslag gevind het, te onthou sodat ons in ons geloof versterk kan word, kom nie vanself nie.
Dit vra ‘n bepaalde dissipline en toewyding.
Dit vra dat ons gereelde tye, ja, oomblikke van afsondering en stilte sal beplan en vind om doelbewus hierdie verhale te gaan lees, te oordink en daaroor te praat.
Om verskeie redes het dit vir baie mense vandag moeilik geword om daarby uit te kom.
Vir eers is daar die opvatting of indruk dat die Bybelse verhale vervelig is. Dat hulle boonop ‘n klomp wette en voorskrifte bevat wat lewensvreemd en neerdrukkend is.
Toegegee: Die Bybelverhale kom uit ’n tyd en konteks wat in vele opsigte vreemd aandoen by die moderne mens. Maar wie moeite doen en lank genoeg daarin delf, ontdek meesal, tot hulle verrassing, dat hierdie verhale die verhaal van hulle eie lewe weerspieël en vertolk.
Boonop bevat hierdie verhale weergalose letterkunde.
‘n Ander rede waarom die Bybel vir baie mense ‘n vergete en onbelangrike boek geword het, het te make met die spoed van ons lewe, en belangriker nog, ons eie selfgerigte en uitsluitlik wêreldgerigte lewensinstelling.
Dit is ‘n lewensinstelling waar, in die woorde van ‘n bekende skrywer, God nie meer tel nie. “En waar dít gebeur,” so voer die skrywer verder aan, “is daar geen teuels meer aan ons instinkte nie, geen beloning vir die goeie, geen straf vir die kwade, geen gesonde deug, geen skaamte en geen geregtigheid nie. Dan word elke mens ‘n wolf vir die ander.”
Presies omdat ons samelewing daarheen loop, moet ons die skatte van die Woord dringend herwin.
Getrou, toegewyd en met dissipline.
Here, laat my vandag weer, soos die psalmdigter in Psalm 119:103, die soete heuningsmaak van u Woord proe. Amen