Toe het hy op sy knieë neergesak en hard uitgeroep:
“Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie” (Handelinge 7:60).
In skerp kontras met Psalm 137 waar die verontregte digter na weerwraak en vergelding soek, staan die verhaal van Stefanus, die eerste Christen-martelaar.
Handelinge 7:54-60 handel oor Stefanus se steniging. Dit skets ‘n harde toneel vol siedende haat en woede.
Luister net na die woorde of taal wat die reaksie van die skare teen Stefanus beskryf.
Ons hoor van woede en ‘n gekners van tande (Hand 7:54), van ‘n harde geskreeu – en dan die onbeskryflike geweld wanneer die skare op Stefanus toesak, hom by die stad uitsleep en met klippe begin doodgooi (Hand 7:57-58).
En dan die verrassende – Stefanus wat te midde van hierdie wrede aanslag kalm en bedaard bly, boonop hard uitroep dat God hierdie wreedaards die sonde nie sal toereken nie (Hand 7:60).
Vanwaar hierdie onverwagse en verrassende teenstem van vergifnis en liefde?
Die sleutel of geheim lê in die krag en teenwoordigheid van die opgestane Here wat tot vandag toe nog soos ‘n onstuitbare lig in ons donker en onbarmhartige wêreld skyn. Dit lê in ‘n hemel wat oop is oor ons.
Dít is waarop Stefanus in hierdie oomblik gerig is, waaruit hy leef (Hand 7:56). Sodat iets van Christus self – van sy vergewende liefde en krag – in hom sigbaar word. Geen wonder sy gesig het soos dié van ‘n engel gelyk nie (Hand 6:15), terwyl sy gebed ‘n weerklank van Jesus se eie gebed aan die kruis geword het (Lukas 23:34).
Maar dit is wat gebeur as mense hulle oë op die opgestane Heer hou. Hulle begin, anders as die gepeupel, deur Christus se nabye krag nuwe weë van liefde en vergifnis soek.
Net soos die sterwende Stefanus.
Here, leer my vandag die krag van u opstanding wat kan help dat ek ook dié vergewe wat my irriteer of selfs vervolg. Amen