Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Die dieper geheim van gasvryheid

Dit verseker ek julle: Wie iemand ontvang wat Ek stuur, ontvang My;
en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het (Johannes 13:20).

Wie met oorgawe gasvryheid beoefen, dit waag om ander in te nooi in hulle huise en hulle met warmte en liefde te ontvang, kan hulle gereed maak vir groot winste.

Ons weet dit tog uit ons alledaagse lewe – hoe ‘n vreemdeling wat jy in jou persoonlike ruimte inlaat, jou lewe soms op onvoorsiene maniere kan verryk.

‘n Bekende Duitse teoloog stel dit so: “Dit behoort tot die groot geheimenis van gasvryheid – wat ‘n vorm van liefde is – dat agter en onder hierdie skynbaar onskuldige ontmoeting, daar verrassings en nuwe ontdekkings skuil wat jy nooit vermoed het nie.”

Self het ons as familie dit ervaar toe ‘n jong Deense student in die vroeë negentigjare vyf maande lank by ons aan huis gebly het. Agterna het my kinders vertel: “Julle sal nooit besef watter rol hy in ons lewe gespeel het nie. Want die tye wat julle te besig of afwesig was, het hy ingestaan. Ons sal sy gesprekke en die talle Deense speletjies wat hy ons geleer het, nooit vergeet nie.”

Dit is geen wonder nie dat die Bybel ons daaraan herinner en daartoe oproep: “Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves” (Hebr 13:2).

Trouens, die dieper geheim van gasvryheid is dat ons daardeur ‘n weg vir God self in ons lewe oopmaak. Want wie ‘n gas met hartlikheid ontvang – so vertel die Skrif ons – word nie net ‘n naaste vir daardie persoon nie, maar in en deur die gas kan Christus ons op nuwe en verrassende maniere tegemoet tree.

En deur Hom niemand minder as God self nie (Joh 13:20).

Dit inderdaad ‘n groot geheimenis.

Here, ons Here, maak vandag weer ons oë oop om U in die vreemdeling te herken. Amen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.