Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar,
want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag (1 Tessalonisense 5:16-18).
‘n Anglikaanse kollega vertel die afgelope week hierdie mooi storie van hulle huidige Aartsbiskop, Vader Thabo Macgoba.
Hoe ‘n vrou met haar klein seuntjie onlangs by hom op besoek was. Hoewel te jonk om die amp en werk van hierdie belangrike geestelike leier te verstaan, het die kind wel aangevoel dat hulle iemand belangriks gaan sien.
Daarom was hy nuuskierig en wou voor die tyd presies weet wíé die man is en wát hy alles doen.
Die ma se poging om te verduidelik, het egter nie heelpad geslaag nie. Want ná nog ‘n probeerslag, was sy kinderlike vraag steeds iets soos: “Is hy ‘n soort towenaar?” En nog later: “Of is hy miskien soos Superman?”
By die biskop aangekom, het die ma die kind aangemoedig om maar self sy vrae te stel.
Waarop die Aartsbiskop eerlik en verrassend geantwoord het.
“My kind, my werk is om te bid – te bid vir mense, vir die groot wêreld daar buite. Om hulle name voor God te noem. Ek weet vir baie sal dit na ‘n klein en onbenullige werk klink, maar dít is my groot werk. Dit is waarvoor ek elke dag opstaan. Dit is wat my aan die gang hou, wat my dryf. Dit is waarin ek vreugde vind.”
Behalwe dat die storie iets verklap van hierdie charismatiese biskop se geestelike diepte, erns en voorbeeld, herinner dit ons terselfdertyd aan een van die belangrikste dissiplines en opdragte van die Christelike lewe, naamlik dat ons, in die woorde van Paulus, sonder ophou sal bid.
Dit is omdat ons dít vergeet en nalaat dat ons lewe dikwels so uitrafel en ontspoor.
O Here, leer ons vandag weer die gawe en dissipline van ware gebed. Amen