Gee tog aandag aan my hulpgeroep, my Koning en my God,
want tot U bid ek (Psalm 5:3).
Gister het ons aan die hand van die Anglikaanse aartsbiskop se getuienis gehoor hoe belangrik gebed is en steeds behoort te wees.
‘n Digter het hieroor geskryf:
As ons nie bid nie
kan die dag nie tot bedaring kom,
die voëls nie rustig gaan slaap,
die nag nie haar sagte werk doen of
drome ontdooi nie.
As ons nie bid nie
val die swart gordyn wat alles bedek
en einde markeer, heeltyd oor ons.
As ons nie bid nie
loop die damme leeg, slaan deure toe,
verdwyn die blomme, sterf die gevoel.
As ons nie bid nie
bly ons geplunder, sak die son te vroeg,
verdonker die maan ontydig.
As ons nie bid nie
begin die aarde wentel om bomskerwe
en leë bottels, groei die leegtes.
As ons nie bid nie
raak ons dae stowwerig en aangeklam,
stort daar berge ineen, krimp nog
eilande.
As ons nie bid nie
kruip die skaduwees van eensaamheid
langer, kom die ryp te laat, duur die
somer te lank.
Gebed – só hoor ons – kan ‘n verskil maak aan ons persoonlike lewe, die aarde en die gang van ons geskiedenis.
Die vraag is: Glo ons dit? En sal ons dit daarmee waag?
O Here, ons buig voor U. Hoor vandag weer ons gebede. Amen