Hy sal my verheerlik, want wat Hy van my ontvang,
sal Hy aan julle verkondig (Johannes 16:14).
In Johannes 14 en 16 waar Jesus praat oor die koms van die Heilige Gees, verwys Hy na al die verskillende troosvolle dinge wat die Gees in ons lewe verrig.
Een van die belangrikste hiervan is dat die Gees ons denke verlig, ons oë oopmaak, of soos Jesus dit hier uitdruk, ons dieper in die waarheid inlei – die waarheid oor God, oor die wêreld, onsself – en natuurlik oor Jesus.
Die Gees is in dié opsig die ware verligting, die eintlike Aufklärung wat die groot geheime en sin van ons heelal, van ons planeet en van ons spikkeltjielewe hier op aarde onthul.
Wat die waarheid oor Jesus betref, maak die Gees ons by uitstek van sy sleutelrol in die geskiedenis van die mensdom bewus.
Van sy weergalose woorde, dade en voorbeeld waardeur Hy, soos níémand voor of ná Hom, die koers vir ‘n eg menslike lewe aangedui het – een waarin ons die swakste in onsself kan agterlaat en letterlik die smaak van die goddelike kan begin proe.
Want Hy kom van God en is ook die weg na God toe (Joh 14:6, 26).
Hiervoor alles maak die Gees ons oë oop.
Trouens, die Gees maak ons daarvan bewus dat Jesus, alhoewel Hy in die oë van baie ‘n tragiese figuur was, eintlik die triomfantlike Redder van die wêreld is, die Heer wat deur sy dood en opstanding alles wat ons weerhou van egte lewe – dit is daardie groot magte van skuld en sonde, dood en boosheid – oorwin het en uit die weg geruim het.
En só, deur ons oë oop te maak vir wie Jesus was, waarom Hy gekom en ook gesterf het, verheerlik die Gees Hom, toon Hy aan ons hoe, ten spyte van teenoorgestelde bewerings, die reg, ja, die waarheid aan Jesus se kant was (Joh 16:8-10,14).
Sodat ons maar in Hom mag glo.
Heilige Gees, dankie vir u blywende teenwoordigheid in ons lewe. Open vandag opnuut ons oë sodat ons Jesus as egte mens en Heer kan eien en omhels. Amen.