En wanneer Hy kom, sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde,
en dat die reg aan my kant is, en dat die oordeel al gekom het (Johannes 16:8).
In Johannes 16 wys Jesus op nog ‘n belangrike werk van die Heilige Gees.
Dit is dat die Gees met sy koms sal bewys, ja, dit sal onthul dat die wêreld aan sonde skuldig is (Joh 16:8-9).
In die konteks wys dit natuurlik allereers daarop dat dit mettertyd duidelik sal word dat Jesus ten onregte veroordeel en gekruisig is. Dat met sy verhoor nie Hý nie, maar die wêreld, die mense en owerhede wat Hom wederegtelik aangekla en gedood het, skuldig staan.
Dít, so verseker Jesus sy dissipels, sal die Gees kom uitwys.
Maar ook in ons eie persoonlike lewe, hoor ons elders, is ‘n soortgelyke proses daagliks aan die gang – is dit die Gees wat ons skuld ontmasker, wat ons bewus maak en ons ook van sonde en selfsug oortuig.
Die Gees bring ons daartoe om dit te bely en ons opnuut op die genade te werp. Presies soos Dawid, wat ná sy oortreding met Batseba gebid het: “Moet my tog nie van U af laat wegdryf en u Heilige Gees van my af wegneem nie … Skep vir my ‘n rein hart en vernuwe my gees en maak my standvastig (Ps 51:12-13).
Dat die Gees op dié manier in ons lewe werksaam is, word veral sigbaar en voelbaar in die onvergenoegdheid, ja, selfs die ontevredenheid met onsself wat so dikwels toeslaan, die stem van die gewete wat ons pla. Presies soos met die tollenaar wat, anders as die fariseër wat selfgenoegsaam by die tempel gepraal het, alleen maar op sy bors kon slaan as ‘n teken van onvrede en berou (Luk 18:13).
Ook dít – hierdie besef van ons eie swakheid en tekortkomings, ons sondes en mistastings, is ‘n belangrike, selfs kosbare geskenk van die Heilige Gees.
Dáárvoor moet ons elke dag bid. Dit kom nie vanselfsprekend nie.
Heilige Gees, dankie dat U weet van ons sondes en nie skroom om dit te onthul nie, sodat ons dit kan bely en ons opnuut op Christus en sy genade kan werp. Amen