Boodskap vir Vandag

Search

In die bedding van ons gewone lewe

Só sal dit in die laaste dae wees, sê God:
Ek sal my Gees uitstort op alle mense … (Handelinge 2:17).

Handelinge 2 wat handel oor die uitstorting van die Heilige Gees, bevat ‘n klompie verrassende perspektiewe.

Die eerste is dat God se werk met ons as mense nou veel nader, veel intiemer asook veel meer geheimnisvol as vroeër is.

Want sonder dat ons dit miskien aldag besef of ervaar, vloei God se werk sedert Pinkster nou ín die bedding van ons gewone aardse bestaan, van ons konkrete en alledaagse menslike lewe.

Dáár is God deur sy Gees nou kragtig aan die werk – dáár spoel God met sy Gees, wat ook die Gees van liefde en gemeenskap, van blydskap en vrede is, deur ons lewe.

Kyk, dít is wat die profeet Joël bedoel het – en wat nou deur Petrus op Pinksterdag bevestig word – toe hy voorspel het dat God in die laaste dae sy Gees op alle mense (of soos die ou vertaling dit stel “op alle vlees”) sal uitstort (Joël 2:28-32).

Vroeër – so kom dit in die Ou Testament voor – was die Gees, wanneer dit by mense gekom het, net werksaam in hulle wat God spesiaal gekies en geroep het: mense soos die profete, die konings of die rigters, wat soos hoë bome in die geskiedenis van Israel uitgetroon het.

Maar nou, op Pinkster, daal die Gees in tonge van vuur op almal wat teenwoordig is neer. Oud en jonk, manne en vroue, hulle wat heers, maar ook hulle wat dien, word begeester, ontvang die Gees se gawes, word meegevoer deur die Gees se krag en energie en word as profete by God se werk ingeskakel.

God se werk wat nou onder en by en in ons is – ín die bedding van ons menslike kultuur en geskiedenis, in die hart van ons samelewing.

Ek wonder of jy weet dat die Gees van God vandag ook só oor en in jou lewe waai. Dat dit die Gees is wat jou laat verlang na God, wat jou gevoelens en emosies aanraak, wat jou laat lag en huil, wat jou onrustig maak, wat aan jou gewete torring, jou tot berou en spyt bring, jou ook roep en aanvuur tot goeie dade – en jou veral tot nederige dankbaarheid stem.

Ja, só naby is die Gees van God vandag aan jou.

O Gees van God, dankie dat U vandag in my woon en werk. Maak my berouvol oor wat ek versuim of verbrou het en maak my opnuut aan God getrou. Amen

Vriende van Kerkbode

Raak ’n vriend van Kerkbode

Herinneringe van Hoop

Help om herinneringe te bewaar

Building Bridges

Bridging the gap between prisoners and the community

Maak ’n Dankoffer

Deel jou dankbaarheid deur ’n dankoffer

Hoekstene van Hoop

Bou saam aan geestelike huise

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms

Bybels vir Almal

Help om God se Woord in elke huis te bring

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap elke dag

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders

Laat ‘n Ligspoor

Laat kinders leef met lig, lag en liefde

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.