Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Non, je ne regrette rien

Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie … Hy weet waarvan ons gemaak is,
Hy hou in gedagte dat ons stof is (Psalm 103:10,14).

‘n Vriend van my wat ‘n sielkundige is, herinner my onlangs weer aan wat hy “die drie geheime van ‘n gelukkige en vervulde lewe” noem.

Die eerste geheim is dat ons vrede sal maak met ons verlede, in die reine sal kom met ons geskiedenis en alles daarin wat ons lewe steeds pynig en belas.

En wie van ons ken nie hierdie pynlike skaduwees of donker kolle uit ons verlede nie, daardie slegte herinnerings wat hulle van tyd tot tyd aanmeld en ons op ‘n dag onverwags van balans kan stoot, in nuwe onsekerheid kan dompel, ja, selfs – soos in sommige dramatiese gevalle – met ‘n gevoel van skuld, selfverwyt, bitterheid en ‘n dosis selfveragting laat?

Die daaglikse gang en roetine van ons lewe help natuurlik dat ons vergeet en baie van hierdie herinnerings kan dood leef. Maar op ‘n dag, wanneer ons meer kwesbaar is, kan hierdie spoke onverwags terugkeer en ons lewe omkrap – daardie onreg wat jou aangedoen is, jou eie onbesonnenheid of dom keuses wat hulle skynbaar nou op jou wreek.

Ja, die spoke van die verlede het baie name.

Die uitdaging is om hierdie spoke gedurig te besweer, om, terwyl jy hulle in die oë kyk, nie toe te laat dat hulle jou toekoms dikteer en bly inkleur nie. Ons taak as volwasse gelowiges bly dit: Om vrede te maak met die verlede. Om onsself en ander te vergewe en só, sonder onnodige verwyte, bitterheid of haat verder te gaan leef.

En ons kán ook, want ons leef uit die belofte dat God reeds met ons slegte verledes klaar gespeel het. Dat God goed weet dat ons stof is, menslik, swak, verleibaar, maar dat God ons nie daarop vaspen nie. Inteendeel, só het die psalmdigter ontdek: God handel nie met ons volgens ons sondes nie, maar volgens sy genade, sy ontferming, sy oneindige liefde. Trouens, so jubel die psalmdigter: God wil ons lewe daarmee kroon (Ps 103:4).

Wie dit weet, kan tereg elke dag saam met die Franse sangeres Edith Piaf sing: Non, je ne regrette rien! – Nee, ek verwyt my oor niks nie!

Here, dankie dat U ‘n genadige God is wat ons nie vaspen op ons verlede nie. Help my om sonder verwyte of bitterheid te leef. Amen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.