Omdat Hy self versoek is en gely het,
kan Hy dié help wat versoek word (Hebreërs 2:18).
Daar is ook ‘n tweede belangrike geheim vir ’n gelukkige lewe waarvan my sielkunde-vriend my onlangs bewus gemaak het.
Náás die vrede wat ons met die verlede moet maak, moet ons ook vergenoegd wees met ons hede – vergenoegd met wat ons híér en nóú toeval.
Vir party mense is dié uitdaging nie te moeilik nie. Wanneer die verhoudings met familie en vriende geluk, en daar boonop finansiële sekuriteit bestaan, is die hede gewoonlik ‘n aangename ruimte om in te leef.
Dan word dit maklik om daarmee gelukkig en vergenoegd te wees.
Die probleem kom as ons huidige situasie met ondraaglike spanning en bekommernisse, selfs akute pyn en lyding, gevul is. Dan vra dit spesiale krag en geloof om daarmee saam leef en daarvan sin te maak.
En tog bly dit ons uitdaging as volwasse en gelowige mense om nie, wanneer dinge téén ons draai, nostalgies in die aangenamer herinneringe van die verlede weg te vlug nie. Of om onrealistiese, onvanpaste drome oor die toekoms te prakseer nie.
Sulke ontvlugpogings wat vrees vir die moeilike uitdagings van die hede verraai, bly altyd ‘n versoeking.
Nee, die uitdaging is om met vertroue en waardigheid die sogenaamde vuur van die hede te trotseer. Dit selfs as ‘n vuurproef te sien waarbinne ons nuwe lesse kan leer, waaruit ons selfs as taaier, gelouterde en wyser mense kan verrys.
Dit is geensins maklik nie, maar beslis moontlik. Want weer eens: Ons dien ‘n Heer wat die branding van die hede ken, wat self deur die vuur kom en beloof het om ons daardeur te lei.
Sodat ons met groter gerustheid, wysheid en dankbaarheid, vandag se dinge kan omhels, selfs met hoop op nuwe uitweë daarmee kan omgaan.
Wie die hede voluit met vertroue omhels, mag maar hoop op méér.
Here, dankie dat U vertroud is met die branding van die hede, die vuur wat kan vernietig, sodat ons met vertroue daardeur kan gaan. Amen