As jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie,
want ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder (Jesaja 43:2-3).
Gister het ons verwys na die hoogste vrug van ons geestelike lewe.
Dit is om te arriveer by daardie diep innerlike en onaantasbare wete dat ons deur God se liefde en krag gedra word, en dat niks of niemand ons om dié rede kan ontwrig, ontstel, versteur of vernietig nie.
‘n Ander woord wat hierdie wete mooi uitdruk, is die woord “vuurvas”. Vuurvas dui op daardie staat of toestand waarin ons bestand is teen die vuur, nie langer deur die vlamme daarvan geskroei, verbrand of geskend kan word nie. Selfs in staat is om speels met die vuur om te gaan – dit ook tot ons eie voordeel en verdere groei in te span.
In ‘n gedig met die gelyknamige titel, beskryf die digter hierdie staat só:
met kwiksilwer voete
stap ons oor beddings
van vuur –
‘n uitverkore res wat
weier dat die nag ons pla,
die roes ons insluk,
die vlamme ons dreig.
ons belê in tyd wat
liefde bedoel,
in stilte wat
vriendskap baar,
in vertroue wat
onskendbaar groei,
ons speel kordaat met
die vuur.
Hoe ongelooflik dit ook al mag klink, dít is waar die evangelie ons wil uitbring: om vuurvas te leef!
Here, dankie dat wanneer U ons deur vure lei, U ons ook sterker maak sodat ons vuurvas mag leef. Amen