Boodskap vir Vandag

Search

Die kern van ‘n Christelike gemeenskap

Kinders, wees as gelowiges aan julle ouers gehoorsaam, want dit is wat die wet van God vereis.
“Eer jou vader en jou moeder” is ‘n baie belangrike gebod …
En vaders, moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie … (Efesiërs 6:1-2 en 4).

Iets wat ons as gelowiges dikwels vergeet, is dat die familie die mees intieme binnekring van ‘n Christelike gemeenskap of gemeente uitmaak.

Die familie is, in die woorde van ‘n bekende teoloog, die nukleus of kern van die kerk en van die gemeenskap van gelowiges.

Hier, in hierdie intieme sfeer waar bloed, by wyse van spreke, dikker as water loop, word van ons gevra om oor die lewe van Christus te leer. Ons ook in te oefen in die waardes wat Hy verkondig het, die waardes van liefde en respek, van vergifnis en aanvaarding.

Sodat iets van Christus se liggaam, waar elkeen ruimte kry om sy of haar eie gawes te omhels, in ons familielewe gestalte kan kry. Sodat die wrewel en jaloesie, die irritasies en wantroue wat so dikwels en soms onbedoeld onder ons kan posvat, daagliks besweer en uit die weg geruim kan word.

En ons in harmonie, liefde en vrede as familie kan saamleef.

Op dié manier kan die Christelike gemeenskap, ja, die kerk van Christus gedy, en boonop ‘n egte teken van hoop en nuwe lewe word – soos ‘n eerste bloeisel in die lente vir die omgewing.

Dit is omdat die familie híérdie verantwoordelikheid het, dat Paulus in die Efesiërbrief ouers en kinders opnuut bind aan die vyfde gebod, naamlik om mekaar te eer deur dade van gehoorsaamheid en liefde (Efes 6:1-4).

Om dááraan getrou te bly, waarborg selfs ‘n lang en gelukkige lewe (Efes 6:2-3).

O Here, dankie vir die vreugde daarvan om deel van ‘n familie te wees. En help ons om só daarbinne te leef dat iets van U self deur ons gedrag sigbaar word. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.