Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig (Efesiërs 5:21).
In die Efesiër-brief waar Paulus dit het oor die verhoudings binne ons gesinne of families, is dit byna asof hy eers ‘n tree terug gee.
Want voor hy by die groter familie kom, daardie delikate verhouding tussen ouers en kinders, praat hy eers oor die huwelik, oor die verhouding tussen man en vrou.
Dit is byna asof Paulus dit áánvoel: As dit nie geluk met die verhouding tussen man en vrou nie, as híér ‘n breuk ontstaan, kom die verhoudings tussen ouers en kinders ook in gedrang, word die hele gesin se lewe en toekoms in gevaar gestel.
Hoe góéd ken ons nie hierdie verskynsel uit ons eie geskiedenisse nie! Hoe die bitterheid en vervreemding tussen man en vrou – wat dikwels op ‘n skeiding uitloop – ‘n wond kan slaan in die lewe van die kinders, hulle lewe totaal kan ontwrig en verwring.
Sodat húlle uiteindelik ook sukkel om met vertroue en oorgawe ‘n vaster verhouding aan te pak. Of skielik, wanneer hulle eenmaal self getroud is, ontdek hoe die spanninge en onverwerkte twiste van die ouerhuis hulle nou in hulle eie huwelike uitspeel.
Dit is omdat Paulus dié gevare ken dat hy moeite doen om man en vrou bewus te hou van die dieper geheim van die huwelik. Hierdie geheim is geleë in die liefde van Christus wat alles vir mense opoffer, ja, vir sy kerk (Efes 5:21-32).
Dié liefde vorm die bron en stewige fondament van alle gelukkige huwelike.
O Here, dankie vir u liefde wat vandag weer die fondament van my verhoudings is. Help my om dit nie net te weet nie, maar daaruit te leef. Amen
Carel Anthonissen