God laat eensames in ‘n huisgesin woon (Psalm 68:7)
Onlangs gebruik iemand ‘n mooi beeld om die betekenis en waarde van ‘n gelukkige huwelik te beskryf.
Sy noem dit ‘n hawe in ‘n stormsee.
Inderdaad is dit een van die belangrike en mooi funksies van ‘n huwelik – dat dit ‘n ruimte van stabiliteit en tuiskoms, van liefde en troos kan wees wanneer die lewe en werk daarbuite ons energie tap en ons moeg, gefrustreerd en dikwels dwars laat voel.
Hoe goed om dan ‘n huis of spreekwoordelike hawe te hê waarheen jy kan terugkeer en waar jy volledig jouself, selfs jou afgematte, gesteurde en ongedurige self mag wees – wetende daar is iemand wat verstaan en wat bereid is om jou onvoorwaardelik te aanvaar en te bly ondersteun.
‘n Onbekende digter het hierdie gevoel van tuiskoms mooi verwoord toe hy geskryf het:
net een gebed vanaand,
terwyl die donker wind haar
tomelose mond uitspoel en kla:
dankie vir die skuiling van my
donskombers,
die stil riviere van my bed,
vir kos en wyn
en vir die warm oog van iemand
wat gewillig elke aand
my ongelyke hartklop in haar stil
aanwesigheid bly stut.
‘n Mens moet inderdaad dankbaar wees as jy dít kan bid. Want dit is allermins vanselfsprekend.
Here, dankie vandag weer vir die warm oog van iemand wat elke dag my ongelyke hartklop in haar of sy stil aanwesigheid kan stut. Amen
Carel Anthonissen