Sy (Mikal) het koning Dawid gesien, terwyl hy spring en
ans voor die Here en sy het hom in stilte verag (2 Samuel 6:16).
Terwyl die huwelik ‘n veilige hawe in tye van eensaamheid en storms moet wees, ons moet bemagtig om vryer met ander om te gaan, weet ons dat dit nie altyd die geval is nie.
Baie huwelike, veral in ons tyd, verkeer onder groot druk en spanning. Gevolglik gebeur presies die teenoorgestelde. Dit word ‘n storm in die hawe, ‘n onstuimige verhaal wat, in plaas van vertroue kweek en ons tot groter diensbaarheid inspireer, hierdie deugde juis ondermyn.
So vervreem egpare nie net van mekaar nie, maar kom die gesinslewe onder druk en kan dit selfs – en dit bly een van die groot hartsere van die lewe – in duie stort.
Daar is baie stormwinde wat die spreekwoordelike huweliksbootjie op dié manier kan teister, sodat ondergang, in plaas van geluk, die voorland word. Sommige winde waai in ons binneste waar onvervulde verlangens of verborge teleurstellings, ook groeiende wantroue, selfs jaloesie, ‘n gevoel van onvergenoegdheid kan skep.
Soos by Tolstoy se Anna Karanina wat ‘n groeiende irritasie met haar minnaar, Vronsky, begin beleef het omrede hy, na haar gevoel, haar ondraaglike situasie as verworpe vrou nie begryp het nie – ook afgekoel het in sy liefde vir haar.
Waar iets nie aan dié soort irritasies gedoen en hulle besweer word nie, slaan dit maklik om in wrewel wat uiteindelik, in van Wyk Louw se woorde, “tot haat kan skif”.
Omdat ons huwelike in dié opsig kwesbaar en breekbaar bly, bly ons geroepe om elke dag met toewyding daaraan te werk.
Jy sal weet waarvan ek praat …
Here, ons dink vandag aan hulle wat hulle huwelike en verhoudings as ‘n krisis beleef. Bewaar ons opnuut van onnodige bitterheid en irritasie. Gee ons meer liefde. Amen
Carel Anthonissen