Aan elkeen van ons is ‘n genadegawe gegee volgens die mate waarin Christus die gawes uitgedeel het (Efesiërs 4:7).
Iemand raak onlangs weer ‘n ou maar groot wysheid kwyt.
Hy noem naamlik dat gesonde verhoudings, hetsy met vriende, familie of ‘n vreemdeling, altyd ‘n bepaalde volwassenheid verg.
By die eerste aanhoor klink sy woorde na ‘n eenvoudige en maklik haalbare resep. Net ‘n bietjie volwassenheid – en wie kan dit nie bereik nie (ouer word waarborg dit tog?) – en siedaar: Alles werk klopdisselboom!
Wie langer in verhoudings leef, weet natuurlik dat dit nie só eenvoudig is nie! Want om volwasse te wees, gebeur nie oornag nie. Ouer word waarborg ook nie dat jy noodwendig daarby gaan uitkom nie.
‘n Mens groei geleidelik daarheen.
Boonop vra volwassewording groot toewyding, harde werk – en in die besonder nugtere en eerlike selfkennis.
Veral die laaste is belangrik: Om jouself soos jy is – met al jou swakhede en beperkings, ook met jou talente en potensiaal, jou sogenaamde genadegawes, soos Paulus dit noem – te leer ken en te aanvaar.
Om waarlik volwasse te wees, is om mettertyd vrede te maak met wie jy is, om vergenoegd te raak met wat jy ontvang het – jou liggaam, jou verstand, jou familie, jou werk, jou omgewing en jou geskiedenis.
Volwasse selfaanvaarding verg ook die moed om ontslae te raak van alles wat kan verhinder dat jy hierdie gawes sal eien en ontwikkel.
Wie daarin slaag om só by hulleself tuis te kom, is altyd gereed om ook tuis te raak by andere. Gereed om sy of haar lewe aan ander s’n te knoop.
Want gesonde selfkennis en -aanvaarding vorm meesal die basis vir gelukkende verhoudinge.
Here, dankie dat U aan elkeen van ons genadegawes gegee het. Help ons vandag weer om hierdie gawes só te eien en te ontwikkel dat ons sonder onnodige komplekse en vooroordele in verhoudings met ander kan gaan leef. Amen
Carel Anthonissen