Dan sal ons, sy kerk, soos ’n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus … Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, en uit Hom groei die hele liggaam (Efesiërs 4:13,15-16).
Dit is maklik om te sê dat volwassenheid – dit is daardie vermoë om jouself met al jou beperkings en gawes te aanvaar – die geheim van gesonde en gelukkige verhoudings is.
Maar wat is die geheim van egte volwassenheid? Hoe bereik ons daardie punt of oomblik waar ons onsself kan aanvaar soos ons is, gemaklik en vergenoegd kan raak met ons gawes, ook met ons swakhede en beperkings?
Sodat ons vry en ontspanne genoeg is om met ander om te gaan, húlle gawes te waardeer en hulle ook met óns gawes te bedien?
Vir Paulus beteken egte volwassenheid dat iets van Christus, van sy siening en insigte, sy manier en styl van lewe, in ons sal begin posvat en gestalte kry. Paulus beskryf dié proses as ‘n groei na Christus toe waarin ons lewe ‘n bepaalde koers, vastigheid en rustigheid kry.
In Christus, so voer hy aan, is ons lewe is nie langer deurmekaar, verward, onseker en onvergenoegd nie – soos kinders wat nog opgroei of mense wat in die see reddeloos ronddryf nie (Efes 4:14). Nee, ons begin al meer wéét wie ons is, wát ons glo, wáárheen ons op pad is en wát ons behoort te doen. In liefde, so skryf Paulus, bly ons by die waarheid (Efes 4:15).
Om so na Christus en na groter volwassenheid toe te groei, is natuurlik geensins maklik nie. Dit vra die moed om nederig te leef, om soos Christus op te offer en ruimte vir ander te laat; toe te sien dat, terwyl jy gelukkig is, ander ook tot hulle reg kom, ook hulle gawes kan omhels en uitleef, ook versorg en gelukkig is.
Dit is geen wonder nie dat Paulus, wanneer hy dit het oor ons volwassewording in Christus, dit direk koppel aan ons lewe in gemeenskap met ander, aan die noodsaak dat ons ons eie unieke plek dáár sal vind, en dat ons veral ons diepe eenheid met en afhanklikheid van ander sal besef en uitleef.
Want dít is waar ‘n volwasse lewe opbloei.
Here, dankie vir u Gees wat ons vandag weer in staat stel om in volwassenheid na Christus te groei. Help ons om nie skaam of sku te wees om soos Christus ruimte te laat vir ander nie. Amen.