Omdat ons hoop hierop gevestig is, tree ons op met groot vrymoedigheid (2 Korinthiërs 3:12).
Nog iemand wat die kuns verstaan het om haar lewe te balanseer tussen oormoed en nederigheid, of soos sy dit self gestel het, “aanmatigende sekerheid en wanhoop”, was die bekende Amerikaanse skryfster, Flannery O’Connor (1925-1964).
In ‘n mooi meditasie oor haar lewe, wys die teoloog, Daniël Clendenin, hoe ‘n groot deel van haar lewe uit twyfel en wanhoop bestaan het.
As ‘n enkelkind wat sedert haar kinderjare sosiaal lomp, eksentriek en in haarself gekeer was, moes sy boonop verneem dat sy, soos haar pa, aan die gevreesde siekte lupus ly.
Dié siekte, waaraan sy uiteindelik op die jong ouderdom van 39 jaar oorlede is, het ‘n groot skaduwee oor haar lewe gewerp. Dit het haar by tye in diepe vertwyfeling, selfs paniek gedompel. Hieroor skryf sy op ‘n stadium: “Ek vrees, o Here, dat ek my geloof in U kan verloor. My gees is nie sterk nie …”
En tog (en dit is die ligkant van haar lewe) het sy ewe vroeg haar uitnemende talent as skrywer ontdek en as ‘n gawe van God aangegryp – ‘n gawe wat haar met nuwe oortuiging en voortdurende vrymoedigheid gevul het om oor haar werk te sê:
“Die tema van my fiksie is niks anders nie as die beskrywing van God se genadewerk in areas van die lewe wat andersins as die domein van die kwade en die bose beskou sou word.”
Veral hierdie opmerking van haar, het my weer laat besef hóé belangrik dit vandag geword het om nie alleen die genadewerk van God in ons eie lewe te ervaar nie, maar dit ook vrymoedig en sonder skroom in die wêreld óm ons aan te dui.
Ons deurmekaar en ontwrigte samelewing het dit nodiger as ooit.
Here, dankie vir mense soos Flannery O’Connor – mense wat fisies broos was, maar nie gehuiwer het om u naam groot te maak en u genade te bly roem nie. Gee ons vandag iets van hierdie vrymoedigheid. Amen
Carel Anthonissen