‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek ‘n mens nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie, maar op ‘n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis (Matteus 5:14-15).
In die rolprent, Dead Poet Society, is daar ‘n toneel waarin die kleurryke leermeester, John Keating, die leerlinge aanmoedig om hulle eie stem te vind.
Wat beteken dat hulle iewers in die loop van hulle lewe hulle diepste passie – daardie vonk van kreatiwiteit wat ‘n mens opgewonde en selfs uniek laat voel – sal ontdek en vrymoedig uitleef.
Waartoe Keating sy leerlinge aangemoedig het, is lewensbelangrik. Daarsonder loop ons gevaar om onder peil te leef, om in te boet aan ons eie potensiaal, of selfs nog ernstiger, ons roeping, dit waartoe ons Skepper ons gemaak en bestem het, te mis.
Die hartseer is dat daar elke dag talle mense sterf sonder dat hulle hierby uitgekom het.
Keating se raad gaan selfs nóg verder. Want die feit is: Alle mense het, by wyse van spreek, méér as een stem, méér as een talent, passie of belangstelling, méér as een rol wat hulle in die lewe kan vertolk.
Dit gaan dáárom dat ons ons sterkste en mees egte stem sal vind, daardie één ding sal doen wat beskryf en uitdruk wie ons wérklik is.
- Soos daardie vrou wat jare lank in die korporatiewe sfeer gewerk en toe op ‘n dag bedank het om ‘n eenvoudige koffie-en-kunswinkel op die platteland te gaan oopmaak. Sy het geweet: Dít is wie ek is, dít is wat ek die graagste wil doen!
- Of my predikantsvriend wat die bediening gelos het om ‘n skilder te word. “Want my skilderye,” so het hy gevoel, “praat sterker as al my preke.”
Miskien is nie almal in dié posisie of bevoorreg genoeg om dit te doen nie.
Maar dit sal altyd die beste opsie wees.
O Here, laat ons vandag die unieke lig wat U in ons geplaas het ontdek, en nie huiwer om dit openlik te laat skyn nie. Amen
Carel Anthonissen