Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ‘n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde (Galasiërs 5:13).
Om ons diepste passie uit te leef, dit wil sê, die één ding te doen wat ons diepste hartklop of ons mees outentieke stem verteenwoordig, is weliswaar nie sonder slaggate of probleme nie.
Ons soeke dáárna, en veral ons úítleef daarvan, kan maklik in selfsug of ydelheid omslaan. Ja, ons nuutgevonde vryheid kan, sonder dat ons dit altyd goed besef, ander irriteer en afstoot, selfs bedreig, uitsluit of benadeel.
Ons ken dit tog: Hoe mense, selfs hulle wat ons vriende, vennote of familie is, se unieke stem, hulle ambisies en passies só met eiebelang en selfvoordeel gevul kan wees dat dit min ruimte vir ander laat – nooit diensbaar is aan ander se belange, ideale of drome nie.
Soos die goeie student wat oor sy professor kla. Dié het lank oorsee studeer en altyd met groot entoesiasme oor die waarde daarvan gepraat. Maar nóóit het hy sy goeie student tot dieselfde keuse aangemoedig of gehelp nie. Die indruk was dat hyself so behep was met sy eie loopbaan en die ontwikkeling dáárvan, dat ander se behoefte aan iets soortgelyks, hom totaal verbygegaan het.
Nee, ons vind júís ons mees egte stem en omhels en leef júís ons diepste passies en belangstellings uit sodat ons andere beter daarmee kan dien – hulle ook kan aanmoedig en inspireer om húlle talente maksimaal te ontwikkel, húlle stem behoorlik te laat geld, húlle unieke stempel af te druk.
Daarsonder word ons die soeke na ons eie stem gewoon naakte ambisie.
En daarteen moet ons waak.
Here, laat my eie ambisie en ideale tog nie vandag die hoër doel van diens aan ander tot niet maak nie. Amen
Carel Anthonissen