Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle sluit die deur van die koninkryk in die mense se gesigte toe (Matteus 23:13).
‘n Bekende teologiese professor verwelkom ‘n jonger kollega wat pas aangestel is met ‘n waarskuwing teen die venyn wat soms tussen kollegas kan ontstaan.
Sy vrou wat bystaan merk verbaas op: “Maar julle is dan teoloë!” Waarop haar man veelseggend antwoord: “Júís my vrou, júís!”
Die luimige en ietwat onskuldige storie bevat ‘n belangrike waarheid.
Dit is dat vroomheid of godsdienstige kennis gevaarlik kan wees. Op vele subtiele maniere kan dit die kiem van selfsug en hoogmoed, ook die huigelagtigheid wat by ons almal sit, stimuleer en voed.
Sodat daar geen waarborg is dat vroom mense noodwendig liefdevol of verdraagsaam teenoor ander sal optree nie.
Om die waarheid te sê, die Bybel waarsku meermale teen die gevare van vroomheid – veral die pretensie, hoogmoed, afguns en gees van veroordeling wat dikwels daarin skuilgaan. In die Bybel, soos ons goed weet, was die Skrifgeleerdes en Fariseërs, die sogenaamde kerkmense van daardie tyd, voorbeelde van hierdie eng en onverdraagsame soort vroomheid.
Van almal het Jesus hulle die sterkste veroordeel.
En ons moet versigtig wees om nie dieselfde pad te loop nie. Die selfsugtige ego het die neiging om op talle maniere baie dinge tot sy eie voordeel in te span.
Ook ons vroomheid en godsdienstige kennis.
O Here, bewaar ons vandag weer van daardie vroomheid wat ander veroordeel en afskryf. Gee ons die openheid en verdraagsaamheid van u liefde. Amen
Carel Anthonissen