Maar jy, as jy jou verstand reg wil gebruik en jou hande in gebed na God toe uitsteek, … kan jy jou swaarkry vergeet en daaraan dink asof dit water is wat weggeloop het (Job 11:13-16).
‘n Vriend van my se vrou is onlangs in Athene, Griekeland, onverwags van haar beursie beroof.
Die ergste daarvan was hulle het pas die land binnegekom het en geld vir drie dae se reis en onderhoud getrek het.
Om die skok te besweer en tot groter kalmte te kom, het hulle besluit om net eers ‘n koppie koffie in ‘n naby geleë kafee te gaan drink. En dáár het hulle toe ’n verdere, baie belangrike besluit geneem.
Dit was om nie toe te laat dat die ongelukkige voorval hulle hele vakansie, waarna hulle weke lank uitgesien het, bederf nie. Ná dié besluit, so vertel die vriend, het hulle opgestaan, nuwe reëlings gaan tref en ‘n wonderlike vakansie gehad.
Sy verhaal bevat ‘n belangrike les. Dit is dat ons, hoe moeilik dit ook al mag wees, nie onnodig lank moet broei op of vertoef by daardie onaangename ongelukke of terugslae wat soms so onverwags en ongeleë ons lewe tref nie.
Ons mag nie toelaat dat die angs daaroor ons só oorweldig dat ons totaal verlam en moedeloos word nie.
Sonder om die trauma, pyn, teleurstelling of selfs skuld van sulke voorvalle te vergoeilik of te ontken, moet daar tog uiteindelik ‘n oomblik kom waar ons die onaangenaamheid eenvoudig agter ons sit, onsself vergewe, opstaan en met nuwe durf en vertroue die lewe tegemoet stap.
Vir ons as gelowiges is dit nie alleen gepas en gerade nie.
Die God waarin ons glo, die God van Christus wat ons altyd weer vergewe en ons nooit onnodig op die verlede vaspen nie, verwag dit ook daadwerklik van ons.
O Here, bewaar ons vandag weer daarvan dat ons onnodig sal broei op of vassit in die verlede. Laat ons steeds leef uit u goedheid en guns. Amen
Carel Anthonissen