Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop (Hebreërs 11:1).
Dit het my nog altyd geïnteresseer hoe mense daartoe kon kom om ‘n pad oor die ruwe Swartberge te bou.
Die storie hieroor ontdek ek toe onlangs in die museum van Prins Albert, daardie kleurryke dorpie aan die voet van hierdie indrukwekkende bergreeks.
Ten tyde van die ondersoek na ‘n moontlike pas oor die berg, was daar – so lui die storie – ‘n ernstige, hoewel deels komiese gesprek tussen die destydse burgemeester, Jan Luttig en die beroemde padbouer, Thomas Bain.
Luttig was skepties en het tydens die gesprek voorspel dat Bain se verslag maar baie kort gaan wees, waarskynlik net een woord: “Onbegaanbaar!”
Hierop was Bain se reaksie: “Wel, laat ons maar sien …”
Ná etlike weke, waartydens Bain die berg vier keer te voet oorgesteek het, het hy gerapporteer: “Jy was reg, mnr Luttig, my verslag is inderdaad kort, selfs nog korter as wat jy voorspel het. Dit bevat net een woord: “Begaanbaar”.
Weer eens kon ek nie help om die geestelike betekenis van die verhaal te oordink nie. Dat daar altyd nuwe en onverwagse weë deur ons mees hopelose en uitsiglose situasies bestaan.
Soos met Bain, verg dit egter gewoonlik deeglike verkenning, stille oorpeinsing, groot vertroue, hoop, sekerheid en waagmoed.
Dit is daardie kwaliteite wat die Bybel “geloof” noem.
O Here, gee ons vandag daardie geloof om paaie en uitweë te sien waar ander gewoonlik vasval en moedeloos omdraai. Amen
Carel Anthonissen