Laat albei saam groei tot met die oes (Matteus 13:30).
Die Here het hulle geplant om sy roem te vermeerder (Jesaja 61:3).
Jesus se gelykenis van die onkruid tussen die koring bly ‘n fassinerende verhaal.
Dit herinner ons onder andere daaraan dat ons nie by voorbaat mense op hulle baadjie, met ander woorde op hulle uiterlike, moet takseer nie.
En só, voortydig en dikwels onregverdiglik, mense veroordeel en afskryf.
Nee, gee kans, wag – mense kan jou verras.
Nie alleen kan hulle op ‘n dag ander en positiewer kante van hulle persoonlikheid aan jou begin wys nie – hulle kan selfs ten goede verander.
Skynbaar het die beroemde hervormer, Martin Luther, in dié verband ‘n wonderlike opmerking gemaak. Dit is dat Jesus ons vermaan om nie té gou die sogenaamde onkruid uit te trek nie, omrede God heimlik die hoop koester dat onkruid in goeie saad, ja, in koring kan verander.
Dit wil sê dat rowers en misdadigers, tollenaars en sondaars tot bekering kan kom en oornag in volgelinge, ja, heiliges kan verander.
Weet dit tog, ook vir jouself: Onkruid kan inderdaad vrugbare koring word, want God se soekende genade is altyd daar.
En wie eg daarheen draai, sal selfs ontdek dat dit ‘n onweerstaanbare en helende krag is.
O Here, ons het nog soveel onkruid in ons lewe. Haal ons vandag weer in met u genade en heel ons. Sodat ons met helende oë ook na ander kan kyk.
Carel Anthonissen