Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word (Matteus 5:9).
Die bekende oorlogsveteraan wat later ook president van Amerika geword het, generaal Dwight Eisenhower, het ná die Tweede Wêreldoorlog ‘n merkwaardige en baie dapper uitspraak gemaak.
Sy woorde was: “I hate war as only a soldier who has lived it can, only as one who has seen its brutality, its futility, its stupidity.”
‘n Mens verbly jou werklik daarin dat ‘n invloedryke leier soos Eisenhower tot hierdie bevrydende insig en besluit kon kom. Dit ook sonder huiwering kon sê.
Dit bly egter jammer dat mense dikwels eers die trauma van oorlog moet deurmaak, eers eerstehands self moet sien en ervaar hoe wreed en mensonterend dit kan word, voordat hierdie besef posvat.
Omdat ons lewe steeds gebroke is, aangedryf deur mag- en hebsug, is daar natuurlik omstandighede waaronder oorlog ‘n laaste uitweg kan word. Een waardeur mense se ongesonde drif alleen met teenstand, dwang en selfs geweld aan bande gelê kan word.
Op die keper beskou, bly oorlog egter, soos Eisenhower later besef het, onnodig – ‘n oefening in dwaasheid en futiliteit.
Boonop is die keuse daarvoor een wat gees van die evangelie verloën, die gees van vrede en versoening, van liefde en verdraagsaamheid.
En dít is uiteindelik die punt: Dat ons nie alleen oorlog en geweld sal vermy en veroordeel nie, maar dat ons iets beters in die plek daarvan sal stel. Ja, dat ons doelbewus sal bly soek na weë om ons eie lewe, maar ook dié van ander, gedurig met begrip, liefde, vertroue en veral deernis te vul.
Dít bly die groter keuse, die heilsamer weg.
O Here, vergewe ons die vrees, aggressie en bakleierigheid wat soms so naby aan die oppervlakte van ons lewe lê en wat die kiem van oorlog en stryd dra. Maak ons mense van vrede en deernis. Amen
Carel Anthonissen