Ek sal hulle droefheid in vreugde verander, Ek sal vir hulle ‘n uitkoms gee: Ek sal hulle bly maak, hulle sal geen kommer meer hê nie (Jeremia 31:13).
Karen Armstrong noem die klein menslike optredes of woorde waardeur ‘n mens warmte en deernis in ander se lewe kan indra gevulde oomblikke, in haar woorde “spots of time”.
Sy kry die woorde by die digter, William Wordsworth, wat op ‘n stadium geskryf het:
“There are in our existence spots of time that with distinct pre-eminence retain a renovating virtue … In trivial occupations, and the round of ordinary intercourse, our minds are nourished and invisibly repaired.”
Self vertel sy hoe die vriendelike woorde van ‘n kloostervoog of meerdere onder wie sy as non gewerk het en vir wie sy altyd bang-versigtig was, so ’n gevulde oomblik was – een wat haar lewe verander het.
Die voog was besig om te sterf en almal in die klooster het haar vir oulaas kom groet. Terwyl almal vertrek het, het sy skielik vir Karen Armstrong teruggeroep vir ‘n laaste paar woorde.
Sy het begin deur te noem dat almal met Armstrong se koms na die klooster, haar gewaarsku het dat sy ‘n probleem sou wees. “Maar,” so het sy gefluister, “Ek wil hê jy moet vandag weet dat jy nooit enige probleem vir my was nie. Inteendeel, jy is goeie mens, suster. Onthou dit, ék sê dit vir jou.”
Dié woorde het Armstrong haar lewe lank bygebly. Daarin het sy die ondersteuning en aanmoediging ervaar van iemand wat op daardie stadium herken het dat sy sukkel.
En sy vertel die storie om wys wat so ‘n klein daad van deernis aan ‘n mens kan doen.
Here, dankie vir woorde wat lewe gee. Dankie dat U ook vandag weer sulke woorde aan ons gee. Amen
Carel Anthonissen