Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

‘n Treffende meditasie

Dit is ook heeltemal reg dat ek so aan julle almal dink, omdat julle my na aan die hart lê (Filippense 1:7).

Nog ‘n tree op die pad na groter deernis, aldus die skrywer Karen Armstrong, is om die gelykheid van alle mense te aanvaar en te waardeer.

Dit beteken onder andere om met vrymoedigheid uit te reik na die vreemdeling, die uitlander en selfs hulle wat, ten minste in jou gedagtewêreld, ‘n soort vyand is.

Deur dít te doen, verbreed ons ons horisonne, leer ons ander mense, nuwe kulture asook vreemde tradisies beter ken. En dra ons by tot groter vrede en harmonie in ‘n wêreld wat dikwels gekenmerk word deur diep vooroordele en klowe, stryd en selfs openlike oorlog en aggressie.

Ten einde ons bewussyn en respek vir ander te verhoog, stel Armstrong ‘n eenvoudige, maar baie treffende meditasie voor – een wat ons daagliks kan aanpak en wat ons deernisvoller teenoor ander kan help stem.

Die meditasie begin by jou huis. Om wanneer jy rondom jou huis stap, eenvoudig te dink aan almal wat by die bou daarvan betrokke was – hulle wat die stene gebak, die mure gebou en gepleister het, ook die pype en elektrisiteit aangelê het.

En wanneer jy soggens opstaan, so suggereer Armstrong, onthou hulle wat die katoen van jou lakens gepluk en geweef het. By die geniet van jou geurige koppie koffie, sien in jou gedagtes hulle wat die koffiebone gepluk, gemaal en vir uitvoer bewerk het. Dink aan al die sweet en arbeid wat daarin gegaan het.

Ook wanneer jy die pad werk toe vat – reflekteer oor die duisende werkers en ingenieurs wat die paaie, motors, spoorlyne, treine en vliegtuie wat jy so gerieflik kan gebruik, gebou het.

En só, deur ons denke en horisonne ruimer te maak, kan ons ‘n ongesonde beheptheid met ons eie voorkeure en liefdes geleidelik oorkom en met groter liefde en deernis nader aan ander beweeg.

Al is dit dan net in ons gedagtes.

Here, maak ons vandag meer opmerksaam. Verruim ons gees en denke. Laat ons hulle onthou wat die wêreld rondom ons help skep het. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.