Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

By die dood van ‘n vriend

Ons wil die hemelse bo-oor die aardse aantrek, sodat wat sterflik is, verteer kan word deur die lewe (2 Korinthiërs 5:4).

Vanoggend ontvang ek die nuus wat een of ander tyd almal se lewe soos ‘n lang verwagte besoeker sal binnekom.

Dit is dat my goeie vriend Hans in die na-nag gesterf het.

Hans was nog relatief jonk, in die fleur van sy lewe toe die gevreesde siekte hom gepak het. Vir almal wat naby hom geleef het, was dit ’n skok. Ook pynlik om te sien hoe hy mettertyd geleidelik weggekwyn het. Want hy was ‘n groot man met ‘n groot hart en ‘n groot glimlag wat die lewe van almal rondom hom geraak en verruim het.

Sy ontydige dood laat ‘n mens nogeens met die teisterende vraag na die sin en die betekenis van so ’n lewe – ‘n lewe vol talent en lewenslus, vol vooruitsigte en drome wat nou onverwags kortgeknip is.

Vir myself bly die teoloog, Dietrich Bonhoeffer, se woorde dat ‘n fragment van ons lewe alles kan bevat wat nodig is om voluit te leef, nog altyd troosryk in situasies waar jong mense sterf.

Die grootste troos is egter dat my vriend deur die manier waarop hy sy lewe aangepak en ingerig het, self die antwoord op die vraag na die sin van die lewe verskaf het. Hy het letterlik, soos Paulus, die sterflikheid met ‘n hoë kwaliteit van lewe getroef. Want hy het in die tyd wat hom gegun was, voluit met liefde en oorgawe tenoor alles en almal geleef. Hy was lief vir sy Skepper, die see, die berge, sy familie, vriende én die vreemdeling.

Sy groot deug, so vertel sy vrou, het juis hiér in sy behandeling van ander na vore getree. Want hy het altyd deure vir ander oopgemaak, altyd gesorg dat hulle hulle unieke potensiaal sal ontdek en uitleef.

Waarskynlik is dit dan ook die rede waarom hy die laaste deur in sy eie lewe met soveel kalmte, vrede en waardigheid kon betree.

O Here, dankie vir mense wat hulle eie sterflikheid met waardigheid en vrede omhels en ons só tot ‘n beter lewe inspireer. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.