Jesus het gehuil (Johannes 11:35).
Dikwels wanneer mense in groot smart verkeer, weet jy nie altyd wat om te sê of te doen nie.
Dan is dit nodig om te weet dat jou blote teenwoordigheid, hoe lomp en onvaardig ook al, meesal genoeg is. Dit is dikwels die eerlikste en mees egte manier van simpatiseer – net om daar te wees.
Die afgelope week hoor ek ‘n eenvoudige en kinderlike storie wat dié waarheid mooi illustreer.
Van die klein seuntjie wat by die aanhoor van die nuus dat sy beste vriend se pa onverwags gesterf het, sonder skroom onmiddellik daarheen oorgehardloop het.
Sy ma was ietwat bekommerd oor sy skielike verdwyning. By sy terugkeer was sy nie alleen sigbaar verlig nie, maar het sy angstig oor sy vreemde gedrag uitgevra.
Toe sy hoor dat hy by die vriendjie se huis was, was haar eerste vraag: “Maar wat het jy daar gaan doen?”
Waarop hy kortaf geantwoord het: “Niks nie!”
“So wat het julle alles gepraat?” was haar volgende vraag.
Waarop sy antwoord weer eens kort en kragtig was: “Niks nie.”
“So wat hét jy dan presies daar gaan maak?” was haar volgende logiese repons.
Waarop hy sag, amper fluisterend en met groot tranerige oë geantwoord het: “Ek het saam met hulle gehuil.”
Om saam met ander te huil, is nie net ‘n teken van ‘n diepe solidariteit met die ander een se smart en hartseer nie, maar waarskynlik een van die sterkte gebare van liefde en deernis teenoor ander.
Soos met Jesus by Lasarus se graf, sê die mens se trane soms alles.
Here, leer ons vandag om nie skaam te wees om saam met ander te huil wanneer die dae van swaarkry aanbreek nie. Amen
Carel Anthonissen