Moenie nalaat om gasvry te wees nie … (Hebreërs 13:2).
Die bekende Katolieke geestelike, Henri Nouwen, skryf aangrypend en oorspronklik oor gasvryheid.
Op ‘n ongewone manier noem hy dit die vermoë om ‘n leë, maar vriendelike soort ruimte in jou lewe te skep. In Engels lui dit eenvoudig: “To create a friendly emptiness.”
Hierdie ruimte, so voer hy aan, moet allereers leeg, maar vriendelik wees ter wille van die vreemdeling, daardie mense wat dikwels ver van jou op die rand van die lewe verkeer.
Tweedens moet dit ‘n ruimte wees waarin jy ook onthou wie jyself is, watter goeie en mooi kwaliteite jy het. Op ‘n manier – dit is die implikasie hiervan – moet jy ook gasvry teenoor jouself wees, jouself leer waardeer en liefkry, veral ook daardie dele of aspekte van jou lewe waaroor jy skaam en verleë voel.
Hierdie ruimte, so voer Nouwen derdens aan, moet dus ook leeg en groot genoeg wees om verandering of transformasie te bewerkstellig – teenoor jouself, maar veral teenoor ander.
Gasvryheid bly ‘n deug wat ons veral in Suid-Afrika met sy verskeidenheid van mense, kulture en rasse nooit durf versmaai nie.
En ons kan gerus maar by onsself begin.
Here, skep vandag in ons daardie leë ruimte van vriendelikheid waarin gasvryheid kan gedy. Amen
Carel Anthonissen