Boodskap vir Vandag

Search

Magteloosheid is nie hulpeloosheid nie

Die Here is my sterkte en my beskermer, op Hom het ek vertrou (Psalm 28:7).

Oor wat om te maak in situasies waar jy magteloos en onbeholpe voel, raak ‘n vrou nou die dag ‘n interessante waarheid kwyt.

Sy merk naamlik op dat om magteloos te voel, nie noodwendig beteken dat jy hulpeloos is nie. Nee, selfs waar jy vasgeloop is, die gevoel het dat jy nie presies weet wat om te sê of te doen nie, is daar steeds opsies, steeds nuwe moontlikhede, ander weë.

Ook steeds ruimte vir vertroue

Sodat jy kan uitspring en sekere dinge begin doen. So draai jy dikwels ‘n situasie om en werk jy jou gevoel van magteloosheid teë.

‘n Goeie vriend wat lank geneem het om sy voete vind, lank teen die sogenaamde ongure en stormagtige winde van die lewe moes stoei en stry en toe uiteindelik tuisgekom het in ‘n goeie werk met lekker kollegas, raak die volgende bevrydende waarheid kwyt.

Hy sê indien ‘n mens jou oë goed oophou, jy sal raaksien dat elke dag vol nuwe kanse en geleenthede is – al is dit dan net om ‘n ander mens met vriendelikheid te groet.

Die kuns is om dit raak te sien en dit dan met oorgawe aan te gryp.

Sodat jy nie verlam raak deur ‘n gedurige gevoel van magteloosheid en só jou vertroue verloor en moedeloos word nie.

Vir die gelowige lê sy of haar diepste bron van vertroue, van nuwe moed, so herinner die psalmdigter ons (Ps 28:7), natuurlik in die Here self.

Here, gee ons vandag weer daardie vertroue dat wanneer ons magteloos en hulpeloos voel, alles nie noodwendig verlore is nie. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.