Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde (Psalm 46:11).
Onlangs kyk ek hoe ons voorste tennisspeler, Kevin Anderson, meeding teen een van die topspelers in die wêreld.
Ná ’n lang intense stryd bekom hy uiteindelik twee wedstrydpunte. Sy teenstander, wat heelwat hoër as hy op die wêreldranglys is, lyk duidelik verslae en verslaan. Anderson se deurbraak na die halfeindstryd – ‘n ongewone prestasie vir hom – skyn ‘n voldonge feit te wees.
Maar dan gebeur die onverwagse. Ná ‘n goeie afslaan, verbrou hy ‘n verspotmaklike hou, ‘n sogenaamde “sitter”, soos die tennislui dit sal beskryf. En vandaar af loop alles skeef – begin sy selfvertroue taan, maak hy een fout na die ander, om minute daarna die baan as verloorder te verlaat.
Almal om die baan, die TV-kommentators inkluis, is verbaas. Hulle gee toe dat sulke dinge kan gebeur, veral op die sportveld, maar dié glips was net té erg. Sulke kanse kom nie elke dag verby nie.
Agterna, is ek seker, Anderson het presies geweet waar dit fout gegaan het. Want in die opwinding van die oomblik, toe hy die bal as ‘t ware net oor die net moes stoot vir die oorwinning, het hy oorhaastig, byna angstig geraak en vervaard die bal in die net geslaan. En só sy groot kans laat glip.
Maar dit gebeur met mense, en dit bly ‘n belangrike les – dat ‘n mens in kritieke oomblikke kalm moet bly. Miskien selfs ‘n paar maal diep asemhaal, voordat jy die volgende tree gee of hou slaan.
Gelowiges moet dit ook bly leer – om nie onnodig angstig of vervaard te raak nie. Ons kan maar ontspan, rustig word, bedaar – soos die psalmdigter dit stel – want die Here is by ons, Hy is vir ons ‘n beskutting.
Ook wanneer ons fouteer.
Here leer ons vandag weer die kalmte van geloof, die rustigheid wat spruit uit die onwrikbare vertroue op U. Amen
Carel Anthonissen