Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies (Matteus 10:29-31).
Onlangs ontdek ek, danksy ‘n e-pos van ‘n vriend, waarom die beeld van ‘n mossie op die een kant van die ou kwartpennie-geldstuk en ook op die latere eensent-muntstuk aangebring is.
Daar sit ‘n aangrypende en troosvolle verhaal daaragter.
Skynbaar het ‘n boerevrou, Anette Marais, meer as ‘n honderd jaar gelede agter die hoë draad van ‘n konsentrasiekamp haar medekampgenote een oggend uit die Bybel probeer troos en bemoedig.
Die vorige nag het sy in haar gebede gesmeek dat haar God tog aan haar ‘n boodskap sal gee. Haar teks vir die oggend was Matteus 10:29 wat handel oor God se sorg vir die geringstes, met name die mossies van die veld.
Dit was terwyl sy besig was om dié woorde te lees toe die onverwagse gebeur het. Uit die bloute het daar op daardie oomblik skielik ‘n vaal klein mossie op haar skouer kom sit. Almal teenwoordig was met verbasing en verwondering gevul. Hulle kon nie anders as om hierin ‘n teken van hoop te sien nie – die hoop dat God in hierdie uitsiglose situasie steeds by hulle sal wees en vir hulle sal sorg, net soos vir die klein mossies.
Trouens, in die maande wat gevolg het, het die mossie die simbool van hoop geword waaraan die vroue van die konsentrasiekamp in Bethulie vasgehou het.
Ná die oorlog in 1902 het Anette Marais as oorlewende op pad terug huis toe die storie aan ‘n invloedryke vriendin vertel. Sy het dit weer aan Generaal Jan Smuts oorvertel. Die gevolg was dat die teken van die mossie in 1923 op die land se kleinste muntstuk verskyn het.
Selfs al verskyn die simbool vandag nie meer op enige muntstuk nie, bly die boodskap daarvan staan. Dit is dat die God van die Bybel na ons omsien, maak nie saak hoe gering en weerloos ons is nie.
Here, dankie dat u wat vir die mossies sorg selfs nog meer na ons omsien. Help ons om dit nooit te vergeet nie. Amen
Carel Anthonissen