Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Belê in vriendskap

Jonatan het Dawid dit met ‘n eed vir hom laat belowe vanweë sy liefde vir hom, want hy het hom liefgehad soos homself (1 Samuel 20:17).

Die afgelope week hou ek ‘n gedenkdiens vir ‘n hoogs begaafde en kleurryke akademiese figuur wat onverwags oorlede is.

In die lewe was hy onder andere ook ‘n ywerige en hoogs gerespekteerde bergklimmer, iemand met ‘n groot verskeidenheid van bewonderaars, maar ook ‘n groot aantal goeie vriende – mense, ja, geesgenote wat oor baie jare gereeld by hom gekom en na-aan hom geleef het. Kort na sy dood skryf een van hierdie vriende insiggewend:

“My vriend het die vermoë gehad om ‘n groot diversiteit van mense bymekaar te bring. Trouens, jy het nooit altyd geweet wie aan sy bergmagnetisme gehoor gaan gee en vir ‘n bergnaweek sou opdaag nie: ernstige bergklimmers, rotsfanatici, geoloë, teoloë, filosowe, askete of gewoon ‘n klomp grapjasse.”

By nadenke oor hierdie aspek van sy lewe, kom dit weer by my op hoe belangrik goeie vriende in die lewe is – mense wat jou liefhet en waardeer vir wie jy is. Mense wat ook jou swakhede ken en jou desondanks aanvaar, ja, wat jou onder alle omstandighede, ook wanneer dit swaar gaan, sal bystaan en ondersteun.

Want dit is wat ‘n ware vriend sal doen.

Trouens, daar is ‘n sin waarin ons geluk, die kwaliteit en selfs die integriteit van ons lewe, gemeet en selfs getoets kan word aan die aard en kwaliteit van ons vriendskappe.

Daarsonder verloor ons maklik ons bestemde rol in die lewe, raak ons gou onseker oor onsself, en die ergste, kan ons vereensaam.

Daarom moet ons moeite doen om in vriendskappe te belê.

Here, dankie vir goeie vriende wat ons deur dik en dun sal bystaan. Dankie veral vir die ongelooflike waarheid dat U ook ons vriend wil wees. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.