Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou (2 Korinthiërs 5:19).
Onlangs praat ek met ‘n man wat reeds twee jaar van sy tweelingbroer vervreem is – nie eers langer met hom praat nie.
Dit is hartseer, want hulle was kleintyd na-aan mekaar – nie alleen fisies en geografies nie, maar ook geestelik. So kon die een, sonder om te veel uit te vra, sommer aanvoel wat die ander pla, of wat sy behoeftes was.
Maar toe skei hulle weë. Die een word ‘n predikant, die ander ‘n beroemde atleet wat in die buiteland gaan woon. In dié tyd keer die atleet dikwels terug en loer kortliks by sy broer in waar hy in ‘n arm gemeenskap werk.
En juis dít, hierdie terloopse, amper ongeërgde, kortstondige en afskeepbesoeke, skep wrewel en verdiep die vervreemding. Die predikant voel aan dat sy broer hom nie meer ag of waardeer soos vroeër nie, dat hy selfs neerkyk op sy werk en sy omstandighede.
Ek ontmoet die predikant tydens ‘n retraite waar hy in stilte opnuut dat die boodskap van God se onvoorwaardelike en versoenende liefde teenoor mense tot hom praat. Dit beweeg hom tot ‘n nuwe besluit. “Vanaand nog gaan ek Kanada toe bel en vrede maak,” so deel hy die groep waarvan ek ook ‘n deel is beslis, maar rustig, mee.
Sy mededeling en nuwe voorneme raak ons almal. Ons bemerk daarin die krag van die evangelie waaroor Paulus so kwistig skryf. Ook waar ons in ons eie lewe versoening dringender moet soek en uitleef.
Want dit kan te laat raak.
O Here, U vertrou ons vandag om u versoening uit te dra en uit te leef. Help ons om dit nie na te laat nie. Amen
Carel Anthonissen