Neem tog in ag dat dit oor U is dat ek beledig word (Jeremia 15:15).
Jeremia 15:15-21 gee ons ‘n kort blik in die lewe van die profeet Jeremia, ook bekend as die lydende of wenende profeet.
Hoe broos en verskeurd hy soms was, kom duidelik uit in dié gedeelte.
Want aan die een kant verbly hy hom daarin dat God hom geroep het, of soos hý dit stel, dat God sy Naam oor hom uitgeroep het.
Nog groter is sy vreugde dat God aan hom sy woorde toevertrou het. “Ek het u woorde verslind toe dit gekom het” (v 16), so juig hy.
Maar presies dieselfde woorde wat hom op ‘n stadium gevoed het, blyk in dié gedeelte ook ‘n vuur te wees wat brand – een wat hom laat ly, vereensaam en uiteindelik diep laat twyfel oor God se trou. Sodat hy kla dat hy nie langer op God kan reken nie (v 18).
Die rede hiervoor was dat die woorde van God wat hy moes oordra, woorde van oordeel en vermaning was – ‘n boodskap wat skerp weerstand en verwerping opgeroep het. Jeremia kla op ‘n stadium selfs dat almal hom vervloek (v 10). Sodat hy nie langer kon sit waar mense lag en gesels nie (v 17).
Dié gedeelte vra van ons as gelowiges om opnuut oor ons eie roeping in die wêreld na te dink en veral hóé ons dit uitleef.
In hierdie verband moet ons onthou dat ons lewe, ja, ons woorde en dade, allereers ‘n teken van hoop en vertroosting vir mense moet wees. In ons lewe moet mense deurgaans die liefde, geduld en vergifnis van Christus vir almal bemerk. Sodat hulle ons leer vertrou en waardeer, ook naby ons wil wees, selfs op ons wil leun in hulle nood.
Maar soms, soos met Jeremia, kan dit gebeur dat ons, juis ter wille van mense se groei en heling, geroep is om hulle aan te spreek en te vermaan, te wys op hulle foute, hulle onreg, kortsigtigheid en dwaling. Selfs al bring dit pyn en verwerping vir ons mee.
So ‘n profetiese teregwysing is soms lewensnoodsaaklik, self onvermydelik. Solank ons seker is dat ons vermaning deur egte liefde gedra word. Dat dit oor God en nie ons eie trots, komplekse en irritasies is wat ons beledig word nie.
O Here, vul ons vandag weer met u liefde. En gee ons ook die moed om so op te staan teen onreg dat u Naam geëer word.
Carel Anthonissen